Die mense, ons, is ongeduldig. In Openbaring is
die vraag by die mens: Hoe lank gaan dit nog duur?
Here, hoe lank gaan U nog die goddelose mense op
aarde uitstaan?
God antwoord in Openbaring 6:11:
totdat almal wat gered sal word, gered is!
God wil nie die mense sommer uitwis nie. Hy is geduldig.
Hy wil almal wat na Hom toe kom versamel. God wil nie
vernietig nie. God wil red.
Vir ons is dit dikwels belangriker dat ons moeite, lyding
en swaarkry einde moet kry, eerder as dat mense by God
moet uitkom...

Die einde van die geskiedenis kom al nader.
Almal word nou gelyk in hulle paniek. Die magtiges en
onmagtiges. Almal kom agter hulle voer nie beheer nie.
Hulle staan nou almal voor Een wat magtiger is! Die wat
magtig was en straf uitgedeel het, soek nou wegkruipplek.
Openbaring wil vir sy lesers sê: Julle is moedeloos en bang
as julle na gebeure om julle kyk. Julle is bang vir die keiser
en sy soldate. Julle is bang vir oorloë en honger.
Sien julle dan nie waarheen dit op pad is nie?
Daar kom ‘n tyd dat dinge andersom sal wees.
Moenie op kort termyn na die geskiedenis kyk nie.
God is geduldig, maar terselfdertyd loop die geskiedenis
onkeerbaar na God se punt toe!

Daarom moet ons nie bang wees of ooit moed opgee nie!
Ook in ons dag en omstandighede, ook in jou eie persoonlike
omstandighede moet ons hieraan vashou. God werk met
‘n baie groter prentjie as wat ons kan sien.
Maar Hy kyk jou nooit daarin mis nie. God is regtig by jou!
Hy sal jou nooit ooit in die steek laat nie!
Vertrou Hom!

Ernest