Openbaring 7 skets die prentjie waarheen
God op pad is met die wêreld.
Van die een seël na die ander het dit net erger geword.
Dit is asof Johannes dink dit sal die mense bang maak.
Nou help hy ons om net weer uitsig te kry waarheen alles
op pad is. As die laaste seël van die geskiedenis oopgemaak
word, sal dit die prentjie wees wat ons begroet.
Volgens vers 9 wil God alle mense wat sy verlossingsboodskap
wil aanvaar, eers bymekaarmaak, voordat Hy die laaste seël
oopmaak. Dit sal die ewigheid inlui. Die moeite en verdriet van
die eerste ses seëls sal dan in vreugde verander.

‘n Mens sou dink dat die oopmaak van hierdie seël met groot
gejuig begroet sou word. Daar is immers reeds ontelbaar baie
mense wat in God se koninkryk ingekom het, volgens Op 7:9.
Maar...as die sewende seël oopgemaak word is daar...stilte!
Openbaring 8:1 sê dit! Want, wat dan gebeur is groter as wat
enige iemand ooit verwag het! Almal is stomgeslaan voor die
heilige oomblik! Selfs die engele!

Nou word dit duidelik dat niks tevergeefs was nie!
Selfs nie daardie gebede wat ons gedink het teen die dak
vasgeslaan het nie! Die gebede van die gelowiges word met
wierook gemeng en uitgegooi. Dan gebeur iets wonderliks.
Wanneer die gebede voor God kom, kom God in beweging!
Dit is wanneer die Bybel praat van weerlig, donderslae en
aardbewings. Dan kom God na die mense toe!
Daarom kan ons maar volhardend bly bid!
Gebede slaan nooit teen die dak vas nie. Gebede bring God
in beweging. God weerstaan nie gebede nie. Wanneer sy
kinders roep, dan kom Hy na hulle toe!

Maar daar sal nog ‘n laaste rukkie van swaarkry wees,
volgens Openbaring 8:6. God wag steeds vir al sy mense wat
nog in die koninkryk moet inkom. Maar in die wagtyd is dit
moeilik vir Christene. Dit is wat hoofstuk 9:1-12 wil sê.
In sulke tye is dit vir Christene baie moeilik om die geloof te
behou en moed te hê vir elke dag se lewe. Johannes sê daar
is sin in so ‘n tyd. Dit staan so opgeskryf, sê hoofstuk 10:2.
Maar wat presies dit is, weet ons nie. Johannes sê, as dinge
op hul moeilikste is, is uitkoms op die naaste.
Ons moet ook altyd in die moeilikste omstandighede
onthou dat God se uitkoms “in sig” is!

Ernest