In lydenstyd dink ons ook aan die simbool
van duisternis. Ons dink ook aan hoe daar
duisternis neergedaal het toe Jesus aan die
kruis was.

Maar daar is altyd lig waar God toetree.
So sê Jesaja 9:1 alreeds profeties:
“Die volk wat in donkerte geleef het,
het ‘n groot lig gesien.” Ons lewe word
gekenmerk deur goeie tye en swaar tye.
Dit is deel van die lewe.
Charles Dickens skryf by geleentheid:
“It was the best of times, it was the worst of
times. It was the season of light, it was the
season of darkness” So is die lewe.

By Somerset-Wes is ‘n treinrit met ‘n ou
stoomtrein wat by geleentheid deur ‘n tonnel gaan.
Wanneer die trein naby die tonnel kom, dan kom
waarsku die kondukteur die passasiers om die
vensters van die waens toe te maak. Die rede?
Die roet van die stoomlokomotief waai in die tonnel
by die vensters in. Die toe vensters en die donker
tonnel is ‘n vreemde belewenis, en dan, eensklaps,
is die trein deur die tonnel en in die lig!
Die vensters word oopgemaak, vars lug stroom in,
die uitsig word waardeer en almal is opgewonde...!

Die lewe in Christus is in sekere opsigte soos die treinrit.
Daar is gebeure wat voel of dit ons vasdruk. Soos toe
vensters en pik donkerte. In sulke tye voel dit of ons net
moet sit en wag vir die lig. Ons kan niks doen nie.
So voel dit. Maar God se teenwoordigheid is soos die
toe vensters wat die roet uithou. Hy is ook die lig aan
die einde van die tonnel. Vertrou op Hom! In goeie tye,
en in swaar donker dae. Hy is die lig! Hy is die uitsig!
Hy is lewe!

Ernest