Herinneringe speel ‘n groot rol in ons lewe.
Foto’s van belangrike gebeure in ons lewe.
Kinders, vakansies, troues, verjaarsdae,
familiefeeste... dit alles is geheue-herinneringe.

Van herinneringe gepraat: ons het ook geestelike
herinneringe nodig. Een van ons groot probleme
is ons geestelike vergeetagtigheid. Hoe gou vergeet
ons nie van God se guns van gister en eergister nie?
Al wat ons onthou is dit wat ons al weer vandag van
Hom vra. Daarom moet ons voortdurend bakens
langs die pad oprig om ons aan God se goedheid te
herinner. Ons moet veral gaan kyk na die bakens wat
God self oprig om ons te herinner. Ons kan in ‘n sekere
sin sê God rig bakens op om ons te herinner aan ons
verhouding met Hom.

Dit vertel van die groot oomblikke tussen ons en God,
toe ons sy kinders geword het, nuwe oorwinnings in sy
Naam behaal het, nuwe toewyding aan Hom gemaak het...
ons groot geestelike bakens saam met God.
Ons moet gedurig daaraan herinner word.

Die kerklike jaar gee aandag aan hierdie bakens van God
deur die geskiedenis met die mens. Lydenstyd, die tyd
waarin ons die Here Jesus se lyding en sterwe oordink
en deurleef, is een van die bakens in die verhouding
tussen ons en God. Om hierdie lydenstyd waarlik te
deurleef, moet ons ‘n slag ons nimmereindigende nood,
behoeftes, klagtes en versoeke vergeet, om geestelik te
vorder. Kom ons stap in hierdie tyd die lydensweg saam
met die Here Jesus as herinnering aan wat Hy vir ons
gedoen en geoffer het aan die kruis.

Oordink Romeine 5:1: “God het ons nou vrygespreek
deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons
en God deur ons Here Jesus Christus.”

Ernest