Jesus wou baie graag saam met sy dissipels eet
voordat Hy sy eie kruispad moes aandurf.
Lukas 22:15 sê: “Ek het baie daarna uitgesien om
hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.”
Hy het ‘n maaltyd vir hulle gereed gemaak, een wat
hulle nie sou vergeet nie. Hierdie ete was net voor die
Via Dolorosa daardie Donderdag aand.

Min het die dissipels geweet van wat in die volgende
ure sou voorlê. Hulle sou dit nooit vergeet nie.
Hierdie nagmaal sou spoedig een van die hoogtepunte
word in God se herinnerings bakens aan ons.
Die goeie nuus is dat God nie net Jesus se 12 dissipels
by hierdie ete van Jesus wil hê nie. Ons is ook op sy lys
van spesiale gaste. Christus nooi ons persoonlik uit om
te kom aansit. Ons moet nie hierdie ete mis as dit in ons
omgewing gebeur nie. Dit is hier waar God ons wil
herinner aan die lydensweg van Jesus.

In 1 Korintiërs 11:26 herinner Paulus ons aan die
betekenis van die nagmaal: “Elke keer as julle van hierdie
brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood
van die Here totdat Hy kom.”

Sommige kerklikes wonder of hulle waardig is om hierdie
ete by te woon. Gelowiges dink soms hulle is te groot
sondaars hiervoor. Stefan Joubert het by ‘n geleentheid
vir so iemand gesê sy grootste sonde is hoogmoed.
“Hoekom?”, wou die persoon weet. “Wel”, het prof.
Stefan geantwoord, “die Here nooi jou vir ‘n ete en dan
dink jy jy’s te goed om jou lewe reg te ruk om aan sy
maaltyd uitnodiging te voldoen.”

Moenie die fout maak nie. Bekeer jou van die sonde in
jou lewe, bely dit, trek feesklere aan en sit aan saam met
die Here. Dit is sy wil. Dit is sy uitnodiging. Ons almal sit
alleen deur die genade van die Here aan. Ons kan nie
gelowiges wees en die Here se feesmaal van die hand
wys nie. Die Here het klaar gesterf sodat jy kan aansit!
Hy het klaar vir die sonde betaal wat jou aanvanklik van
God af weggehou het, en van sy tafel af weggehou het.
Vier fees saam met die Here!

Ernest