Jesus is die Gasheer by die ete van ‘n leeftyd.
Lukas 22:17 sê: “Daarna neem Jesus ‘n beker,
spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en
gee dit vir mekaar aan.” Die laaste ete wat Jesus
en sy dissipels op daardie Donderdag aande voor
Goeie Vrydag geëet het, het toe die ete van alle
etes binne die Christendom geword. Dit het ‘n
lewensbelangrike sakrament geword. Een wat
gelowiges saam met Jesus moet vier.
Ons noem vandag hierdie ete die nagmaal.
Die Nuwe Testament noem dit ook ‘n agape of
liefdesmaal. Ons tref hierdie naam vir hierdie ete
in die Judasbrief aan. Paulus noem dit weer die ete
van die Here as hy vir die Korintiër-gemeente skryf
oor die regte viering daarvan. Lukas 24:30 noem
hierdie ete die breek van die brood. So ook Handelinge
waar ons lees hoe die Jerusalem-gemeente van huis
tot huis die gemeenskaplike ete saam gevier het.
Nog geen ander ete het so ‘n reuse impak in die
geskiedenis van die mensdom gemaak nie. Dit is Jesus
se spesiale ete wat Hy vir al sy dissipels deur alle eeue
ingestel het, om ons te herinner aan alles wat Hy vir
ons gedoen het.
Die nagmaal verskuif ons aandag na die Here toe.
Hy is die eksklusiewe Gasheer. Om hier aan te sit is om
‘n gas van die lewende Here self te wees! Sy feeskos van
brood en wyn is gelaai met aangrypende simboliek en
waarheid, wat die pad aanwys na die werklikheid van die
houtkruis en ons skuld wat gedelg is in die hemel.
Die nagmaal vertel van die Here wat ons so liefhet dat
Hy sy eie lewe vir ons gegee het. Doodgewone brood en
wyn getuig van ‘n nuwe verbond wat God met ons kom
maak het, dat Hy vir altyd ons God sal wees.
Moenie hierdie ete saam met die Here Jesus misloop nie.
Dit is die ete van ‘n leeftyd!
Ernest