Groot etes skep goeie herinneringe.
En wat ‘n ete was dit nie daardie Donderdag
aand voor Goeie Vrydag nie!
Mense praat graag oor groot etes en goeie kos.
Televisie-kanale en -programme bestaan op
grond hiervan. Hoeveel te meer moet ons nie
onthou van ons spesiale ete saam met Jesus nie.
Hy nooi ons gereeld om saam met Hom by sy
feestafel aan te sit. Op die spyskaart is daardie
einste feeskos steeds vandag nog: brood en wyn.
Dit vertel van Jesus se liggaam en bloed. Van dood
en vryheid. Wyn en brood is feeskos vir die kerk
van die Here. Dit vertel in ‘n neutedop alles oor
Jesus se verlossing. Ons word met ons hele lewe
deel daarvan. Ons kan dit selfs proe en ruik.
Ons proe die nuwe lewe wat Jesus gee.
Ons ruik die aangename geur van redding.
So onthou ons beter.
Voor Jesus die kruistog aanpak het Hy en sy dissipels
eers feesgevier. Die Pasga wat daardie aand ook in
Jerusalem gevier is, was as’t ware die voorgereg.
Die uittog uit Egipte was gister se verlossingsnuus.
Met Jesus se ete was die nuusflits van alle eeue op
hande: Die Messias sou binne enkele ure onskuldig
aan ‘n houtkruis vermoor word. God se eie Kind se
bloed sou vloei. Hierdie bloed sou biljoene mense
deur die eeue loskoop uit die magsgreep van die sonde.
Ook Jesus se liggaam sou vir ons gegee word soos die
brood wat Jesus by die feesete uitgedeel het. En ons
dink aan die woorde van die Here in Lukas 22:18:
“Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink
voordat die koninkryk van God gekom het nie.”
Sien uit na die feesmaaltyd van die Lam!
Ernest