“Toe neem Jesus die brood, spreek die
dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle
met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle
gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Eet om te onthou. Dit is deel van Jesus se uitnodiging
in Lukas 22:19. Sy liggaam wat Hy vir ons gee, is
sinoniem met die brood wat Hy breek en uitdeel.
Daarom is die nagmaal die ete van alle etes. Dit is by
uitnemendheid die onthou ete! Par excellence!
Hoe meer jy dit eet, hoe meer en hoe beter onthou jy
Jesus se offer, en hoe meer leer jy om te vergeet van
jouself! Onthou Jesus se offer en vergeet van jouself!
Dit is die doel van die nagmaal. Onthou Jesus!

Dit is nie maar net ‘n herinnerings-ete nie. Dit is nie
maar net ‘n terugdink aan die “goeie ou dae”, of ‘n
gevalle held, of ‘n vriend, of ‘n geliefde nie.
Die nagmaal is die enigste godsdienstige ete op aarde
waar die Een oor wie hierdie ete gaan, elke keer self
teenwoordig is! Wanneer Jesus ons nooi om te eet om
te onthou, dan bedoel Hy ons moet onthou Hy is die
lewende Gasheer by elke nagmaalsfees, en Hy is die
lewende werklikheid in ons hele lewe!

Een van die belangrikste maniere om Jesus te onthou,
is om sy koninklike feesmaal gereeld saam met sy ander
dissipels te eet. So seker as wat Hy daardie Donderdagaand
voor Goeie Vrydag saam met sy dissipels aan tafel was,
so seker is Hy by elke ander nagmaal in die geskiedenis en
in die toekoms teenwoordig. Hy is nie net ‘n eregas nie,
maar self die Gasheer! Hy nooi ons uit om saam met Hom
te kom eet. Elke keer moet ons met verwondering by sy tafel
opdaag. Om Hom te onthou en onsself te vergeet.
So word Hy verheerlik.

Ons moet nooit ooit hierdie ete alledaags maak nie.
Ons moenie gewoond raak aan die heiligheid van hierdie
oomblik nie, en tog ook die vrymoedigheid waarmee ons
kan aansit nie. Ons moenie gewoond raak aan die grootheid
van God se liefde en offer nie.
Moenie dit misloop nie!

Ernest