“Met die beker na die maaltyd het Jesus
net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die
nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir
julle vergiet word.” – Lukas 22:20.
Ons vier ‘n gemeenskapsmaal. In gemeenskap met
die lewende Here, en met mekaar. Ons is een as die
familie van die Here, saam! Paulus het weliswaar ‘n
klompie Korintiërs gewaarsku oor hoe hulle die
nagmaal nié moet vier nie, maar dit dra nie die hoofklem
by die nagmaal nie.Jja, verseker moet ons verstaan wat
dit beteken om die nagmaal saam met die Here te vier,
maar hierdie dinge staan reeds op die uitnodigingskaartjies
na hierdie ete in die Skrif! Hierdie is verseker ‘n ete vir God
se kinders, Jesus se dissipel vriende, ons!
Die nagmaal is ‘n familiefees!
Wanneer families in ons dag saam eet is dit ‘n feestyd.
Mense kook die lekkerste kos en kuier ‘n hond uit ‘n bos.
Hulle lag en gesels. Blydskap en vreugde wen gedurig rondom
die feestafels. Wanneer Jesus ons na sy maaltyd nooi,
is dit ook vreugde en dankbaarheid wat wen! Daarom is die
nagmaal ‘n vreugdefees, en ‘n fees van dankbaarheid!
Ja, die nagmaal is ‘n plegtige maaltyd. Dit vertel van dood en
lyding. Maar wanneer die opgestane Here self by ons is,
is ons trane ook trane van dankbaarheid en verwondering.
Sy voedsel is bedoel vir vreugde, nie vir smart nie.
Daarom is die oorhoofse belewenis vreugde en dankbaarheid.
Die herinnering wat ons hier vier is die herinnering aan sy
dood wat verby is. Ook ons eie sondegreep is agter die rug.
Ons is vry! Ons eet en onthou wat dit Jesus alles gekos het.
Ons drink wyn en dink terug aan sy pyn. Maar ons doen dit
saam met die opgestane Here wat by die maaltyd in ons
midde is. Die Oorwinnaar oor die sonde en die dood.
Ons verwonder ons in vreugde en dankbaarheid aan Hom
en vergeet van onsself! So vier ons vreugdefees en fees
van dankbaarheid!
Ernest