Ons eet by die nagmaal om te onthou wat
Jesus vir ons gedoen het. Ons onthou ook wie
ons was, en wie ons nou is. Wat gebeur as ons
by die nagmaal vergeet waaroor dit gaan.
Dan vergeet ons Jesus en onthou net onsself!
Lukas 22:24 beskryf wat dan gebeur: “Daar het
onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle
as die belangrikste beskou moet word.

Ironie op ironie! Dink net, Jesus stel die ete van ‘n
ewigheid in en sy dissipels stry onder mekaar oor wie
van hulle die belangrikste is. Dit is surrealisties!
Hoe is dit moontlik? Pas het Jesus die grootste waarheid
ooit met hulle gedeel, naamlik dat God ‘n nuwe verbond
met hulle tot stand bring wanneer Hyself binne enkele
ure sy liggaam en bloed gaan gee as offer aan die kruis.
God se nuwe verbond kom in plek, en die nagmaal is die
bewys daarvan. En tog sit die heel eerste eregaste by
hierdie nagmaal en stry oor wie van hulle die belangrikste
is.

Dit is hoe dit lyk wanneer ons vergeet oor wie dit gaan.
Skaars het Jesus vir hulle gesê om gereeld hierdie ete tot
sý gedagtenis te vier, of hulle vergeet oor Wie dit gaan!
Al wie vir hulle saakmaak is hulleself. Ons eie groot ego’s
maak ons so maklik blind en doof. Wat ‘n teleurstelling
moes dit nie vir Jesus gewees het nie. Tog is Hy hulle
nogmaals genadig: Hy wys hulle op hulle vergeet-fout!
Ons moet nie dieselfde fout maak nie. Ons moet nie in
Jesus se teenwoordigheid van Hom vergeet nie. Dit is
presies hoekom Jesus hierdie ete ingestel het. Sodat ons
Hom nie moet vergeet nie! Ons eet om Hom te onthou,
en onsself te vergeet! Ons eie selfsug laat ons van Hom
vergeet. Ons grootheidswaan. Ons is te vol van onsself
en ons eie belang. Vergeet jouself. Onthou Jesus.
Paulus sê dat dit nie meer hy is wat lewe nie,
maar Christus in hom!

Ernest