Lukas 22:26: “Die belangrikste onder julle
moet soos die geringste wees, en die een
wat die leier is, soos die een wat dien.”

Lewenslank kleef arrogansie aan ons vas.
Tensy ons leer om Jesus reg te onthou en
van harte te dien. Selfgesentreedheid maak
dat ons die hele tyd in ons eie oë belangriker
word, en ander mense minder.
Ons eindelose verliefdheid op onsself het
baie gesigte. Nie eers ons godsdienstigheid
vat dit weg nie. So het die dissipels se optrede
by die eerste nagmaal dit gewys.
Ons is versot op erkenning.

Baie keer word godsdiens net bedekte selfdiens.
So wou die dissipels ook die belangrikste wees.
Om by die belangrikste ete die heel naaste aan
Jesus te sit, is wat saak maak. So het die dissipels
gedink. Maar hulle leer die les van hulle lewe.

By die Here gaan dit nie oor vername mense en
vername plekke nie. Hier geld heel ander reëls.
Kleintjies sit bo, en grotes maak nie saak aan die
Here se tafel nie. Die tafel-heer is ‘n dienskneg.
Om saam met die Koning van die heelal aan te sit
vir ete hoef jy nie titels en posisies te hê nie.
Dit gaan nie maak dat Jesus jou raaksien en nader
skuif nie. Die heel belangrikste moet soos die
geringste wees. En die een wat die leier is,
soos die een wat dien.

Ernest