“Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is,
of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is,
nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die
een wat dien.” – Lukas 22:27.

Wanneer jy in ‘n koningshuis sou gaan eet,
sou jy alles moontlik doen om seker te maak jy
ken die etiket reëls van kleredrag, hoe om die
koninklikes aan te spreek, hoe om die knie-buiging
reg te doen, waar om te staan of te sit, en nog al
die ander etiket en protokol. Jy moet jou plek ken.
Min mense word uitgenooi om aan ‘n koningshuis
te eet.

Die goeie nuus is egter dat ‘n Koning wat baie
groter is as enige aardse koning ons na sy spesiale
ete uitnooi. Dit is die lewende Here Jesus Christus
wat met Paasfees uit die dood opgestaan het.
Jesus se nagmaal is bedoel om ons elkeen lewenslank
te herinner aan sy liggaam wat gebreek is en sy bloed
wat gevloei het op Goeie Vrydag, om ons onthalwe!
En ook om ons te herinner dat Hy uit die dood
opgestaan het, Oorwinnaar is, en dat ons ‘n toekoms
saam met Hom het!

Hierdie ete is die sigbare bewys van die lewende God
se ewige nuwe verbond met ons. Alles van hierdie ete
sê dit is spesiaal. Om hierheen genooi te word is om te
weet jy gaan as eregas! Jy gaan aan die tafel sit saam
met die Koning van die heelal. Hy is die Gasheer.
Die regte “etiket” wat hier geld is nederigheid en
kleinheid voor Hom.

Maar die besondere hiervan, is dat Jesus hierin ons
voorbeeld is! Hy sit nie saam met ons aan tafel met
blink konings klere en ‘n troon op sy kop nie. By die
nagmaal tafel is Hy soos een wat dien! Hy is inderdaad
die Gasheer wat ons genooi het en ons met hemelse
gasvryheid ontvang, maar Hy is ook die Een wat ons
bedien met brood en wyn. Daarom dat ons Jesus moet
eer met nederigheid en eerbied. Hy is God en Koning!

Wat ‘n onbeskryflike voorreg om by elke nagmaal in
jou lewe wat nog voorlê, te kan aansit met die Koning
van die heelal as Gasheer! En wat ‘n vooruitsig om
eendag te kan aansit by die maaltyd van die Lam!
Wat ‘n toekomsverwagting! Wat ‘n lewe! Ware lewe!
Opstandingslewe!

Ernest