Wanneer ons terugdink aan spesiale oomblikke
in ons lewe, vergeet ons vir ‘n rukkie van ons
huidige omstandighede. Ons koester die onthou
geleenthede, die “memory lane” geleenthede.
Dit is asof jy weer teruggeplaas word in die tyd
van daardie onthou tye van jou lewe wat jou diep
geraak het.
Die nagmaal is so ‘n oomblik wat jou terug verplaas
na intense onthou geleenthede tussen jou en die Here.
Wanneer jy besef die Here van die heelal het hierdie
ete ingestel om saam met jou te eet, en jy is sy gas,
jy is sy genooide, dan onthou jy vir altyd.
So was dit met die Emmausgangers in Lukas 24:31:
“Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Jesus herken,
maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.” Onthou jy hoe
hulle ‘n hele dag lank saam met Jesus geloop het sonder
om Hom te herken? Maar toe eet Jesus die nagmaal
saam met hulle; Lukas 29-30: “...Toe het Hy ingegaan
om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan
tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en
gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop...” In vers 32 sê
hulle vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy
op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê
het nie?”
Jesus loop saam met hulle en eet saam met hulle!
Lukas gebruik die term “breek van die brood”, wanneer
Jesus kort na sy opstanding saam met twee twyfelendes
sy heel belangrikste ete eet. Hulle was nie eers voorbereid
om dit reg te doen nie, soos Paulus later in Korintiërs waarsku.
Hulle het met twyfel en swaar harte aan die tafel aangesit
saam met Jesus! Hulle het Hom nog nie eers herken nie!
Hulle was kwaad en teleurgesteld. Tog is hulle die heel eerste
mense saam met wie Jesus weer eet ná die instelling van die
nagmaal daardie Donderdag aand voor die kruisiging.
Lukas 24 is in hierdie opsig merkwaardig! Skaars het Jesus
die dood oorwin, of Hy stap ‘n hele dag lank saam met twee
mense wat Hom nie herken nie, en eet saam met hulle brood
in hulle huisie in Emmaus. Jesus kon nie wag om sy oorwinning
aan die kruis, en die opstanding uit die graf, saam met twee
doodgewone mense te vier nie! Sommer net daar, op die
grootste dag in die wêreldgeskiedenis, Opstandingsdag,
en kort nadat Hy uit die dood opgestaan het, eet Hy sy spesiale
ete saam met twyfelaars! Jesus is net daar op sy genadigste,
as ons so sou kon sê. Hy maak tyd vir eet saam met twyfelaars.
In daardie oomblik het die twee se oë oopgegaan.
Toe Hy die brood breek, het hulle Jesus herken.
Toe het hulle nooit weer vergeet om hierdie ete te onthou nie!
Mag dit so wees met elke nagmaal waar ons in die Here se
genade aansit. Mag ons oë elke keer wawyd oopgaan!
Mag ons geloof versterk word. En mag ons nooit weer vergeet
om hierdie ete saam met die Here te onthou nie!
Ernest