Kleopas en sy vrou se ete saam met Jesus
het hulle lewe totaal verander. Toe hulle
ontnugterd uit Jerusalem gestap het op pad
na Emmaus, het Jesus besluit om saam met
hulle te stap. Hy luister na hulle klagtes.
Hierna het Hy die Skrif vir hulle uitgelê en
gewys dat die Messias moes kom ly vir ons
sondes. Dit het hulle harte laat warm word,
maar hulle oë het eers by die ete oopgegaan.
Toe Jesus die brood breek daar in hul huisie in
Emmaus, het hulle lewe in ‘n oogwink verander.
Toe het die feesvierings in hulle lewe begin!
Kleopas en sy vrou het dadelik teruggehaas na
Jerusalem met blydskap in hulle harte en ‘n
nuwe belydenis op hulle lippe! Toe hulle by die
dissipels in Jerusalem opdaag hoor hulle in
Lukas 24:34: “Die Here het regtig opgestaan
en Hy het aan Simon verskyn!” Jesus leef!
Almal het saamgestem! Kleopas-hulle ook!
Hulle het dit self eerstehands beleef!
Jesus was die hele dag lank saam met hulle op
die pad. Ook was Hy die Gasheer by hulle maaltyd
sonder dat hulle dit besef het. Toe Jesus by hulle
was breek Jesus die brood en deel dit uit!
Dit was die tweede keer ooit dat die nagmaal gevier is!
Skaars was die graf leeg, of Jesus vier fees saam met
gewone mense! Twyfelaars se oë word oopgemaak!
Hulle kry ‘n nuwe belydenis op hulle lippe: Jesus leef!
Hy het waarlik opgestaan! Hulle hele lewe verander
ingrypend tot in ewigheid! Dit is die taal van elkeen wat
vandag nog saam met die Here eet met ‘n opregte hart.
Elkeen wat regtig die Here raakloop, saam loop,
en saam met Hom die brood breek!
Om regtig te onthou is om nuut te leef,
vir die Here te leef, en vir die Here te getuig!
Ernest