In Hosea 10:12 staan ‘n treffende vers:
“Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes.
Ploeg vir julle ‘n nuwe land! Dit is nou die tyd
om na my wil te vra sodat Ek kan kom en
weldade oor julle uitgiet.”
Ons weet ‘n self gesentreerde lewe is buite
die wil van God. God se wil is verseker dat ons
sy wil sal ken. Ananias het vir Paulus gesê:
“Die God van ons voorvaders het jou uitgekies
om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy
stem te hoor, want jy sal vir alle mense sy getuie
wees van wat jy gesien en gehoor het.”
– Handelinge 22:14-15.
Ons kan weet, ons wat nou ook Jesus se dissipels is,
dat ons uitgekies is om God se wil te ken, om Hom
deur sy Gees te hoor praat, en om Jesus voor ons te sien.
Ons is uitgekies om geseën te word! Ons is uitgekies
vir gehoorsaamheid en oorgawe aan God.
Om volgens God se wil te saai, soos Hosea sê,
is om God se wil in gehoorsaamheid te saai.
En vir die wat dit doen, wag daar onbeskryflike seën.
“Julle sal my liefde oes”, sê God! “Dit is nou die tyd om na
my wil te vra, sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”
Om God só te mag ervaar, as die Vader wat met weldade
wil gee en seën, as die God wat blydskap en vreugde wil gee,
word belowe aan die wat volgens sy wil saai!
Dit is ‘n groot belofte! Min mense glo dit en leef dit.
Mag ons tot die geseënde minderheid behoort
wat dit glo en uitleef!
Ernest