Mense leef dikwels asof hulle sonder God
kan klaarkom. Wanneer krisisse hulle tref,
dan sê hulle dat hulle “God nie hoor nie”.
Hulle beleef Hom nie teenwoordig nie.
Hulle “maak nie kontak” nie.
Dit was so anders met Hiskia. Want in sy krisis
situasie roep hy en “maak kontak”. Hoekom
maak hy kontak? Hiskia kon uitroep:
“Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou
en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen
het wat reg is in U oë.” – Jesaja 38.
Ons kan natuurlik niks verdien voor God nie.
Maar Hiskia het die pad na God toe oopgetrap
terwyl dit goed gegaan het met hom. Baie mense
wil die pad na God toe oopskraap terwyl hulle in
intensief tussen EKG masjiene lê. In ‘n lewende
verhouding met God hoor ons Hom deurgaans in
ons lewe, en hoor ons Hom ook in die grootste krisis.
Ons sal Hom hoor, ongeag wat sy wil met enige
ingrypende gebeurtenis in ons lewe is.
Ons verhouding met die Here, ons eerbied vir God
terwyl dit met ons goed gaan, ons verwondering van
sy grootheid en majesteit, ons nederigheid voor Hom,
ons dankbaarheid omdat Hy ons God en troue Vader is,
sal in donker tye nog meer en meer groei.
Hiskia het lank voor sy siekte saam met God gelewe.
Dit het vir hom niks by God verdien nie. Maar hy het
God gehoor en teenwoordig ervaar in sy lewens krisis.
Hy het lank voor sy siekte die pad na God oopgetrap gehou.
Wanneer hy gesond word, staan hy bewoë voor God.
Nou het sy gesondheid as’t ware vir hom ‘n terloopse
saak geword. In vers 15 vra hy: “Wat kan ek sê?
Die Here het met my gepraat.” Sy danklied het nou baie
minder te doen met die genesing van sy liggaam,
as met die diepe bewussyn van heilige kontak tussen
hom en God toe hy tot die dood toe siek was.
As ons God in goeie tye ken en liefhet, en die pad na Hom
oopgetrap hou, weet ons in bitter tye dat hy by ons is.
Ons hoor Hom, sien Hom, beleef Hom!
Ernest