Mense kan baie veeleisend wees en ons laat
spoed verloor in ons dienswerk vir die Here.
Markus 6 vertel ook hiervan waar Jesus en sy
dissipels mense bedien. Vers 31 sê: “Daar was
baie mense wat gedurig gekom en gegaan het
sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad
het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle:
“Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus
‘n bietjie.”
Jesus se dissipels lewer na hul sending verslag
aan hul Meester. Dit kom en gaan van mense.
Mense op draagbare, siekes en hulpbehoewendes.
Mense smeek om aandag, en aanraking, en hulp,
en genesing. Baie wil net nog een van Jesus se
eiesoortige regop-sit boodskappe hoor. Jesus moet
hulle asseblief oor die koninkryk van God leer.
Die skare mense se behoeftes sluk al Jesus en sy
dissipels se persoonlike tyd in!
Die mense is onbedagsaam. Wanneer Jesus en sy
dissipels wil gaan rus, oorval hulle Hom weer!
In Jesus se hart leef net innige jammerte vir die
herderlose skare. Jesus gee alles, al word daar geen
bedagsaamheid aan Hom betoon nie. Hy draai nie sy
rug op hulle nie. Ons lees:
“Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.”
Jesus stel egter rus voor. Hy wil ‘n tydjie vir
afsondering inruim, juis omdat die program so vol is.
Dit is baie belangrik wat Jesus ons hier leer. Al is Jesus
gevul met deernis. Hier het ons die model, die patroon
vir barmhartigheid binne die Christelike konteks.
Soms sal daar nie eers heeltemal genoeg tyd wees om
te eet nie. Mense sal baie veeleisend wees met
onbedagsame versoeke en eise. My Christenskap sal
dan eise stel aan my gesindheid en die gedagtes wat in
my hart gaan wees. Ware Christelike barmhartigheid
gaan verseker tyd vra van my, en energie, en liggaamskrag,
egte meelewing. Gedurigdeur, elke dag.
Jesus wys vir ons dat ons ‘n plek en tyd van stilte moet hê.
Daar pak die Here my spens vol sodat ek het om uit te deel.
Daar rus die Heilige Gees my toe om te kan volhard ten
spyte van. Daar kry ek krag om te volhard in my dienswerk
ten spyte van die eise wat dit stel. Jesus het vir hulle gesê:
“Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”
Kry rus en krag by die Here!
Ernest