Victor Frankl is van alle menslike waardigheid
beroof toe hy as gevangene nommer 119104
in die Duitse konsentrasiekampe in Auschwitz
en Dachau aangehou is. Die laaste van alle menslike
vryheid, het Frankl egter gesê, is die keuse ten opsigte
van jou gesindheid. Hy het ook gesê die lewe is 10%
wat met jou gebeur, en 90% hoe jy daarop reageer.
Paulus sit ook in boeie, en kyk net watter soort briewe
skryf hy aan die gelowiges. Hy sê dinge soos:
Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die
Here en nie vir mense nie.
Volhard in die gebed!
Wees daarby waaksaam en dankbaar.
Bid dat God vir ons ‘n deur vir die Woord oopmaak
sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig.
Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog
buite die gemeente is.
Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie
smaak getuig.
In Kolossense 4:5: “Maak die beste gebruik van elke
geleentheid.”
Wat maak dat ‘n gevangene so kan praat?
Paulus het sy laaste vryheid gebruik soos wat Jesus
Christus dit sou wou hê. Nie selfgerig nie. Maar gerig
op die koninkryk van God en die eer van God.
Ons gesindheid kan ons vry maak, selfs al sit ons soos
Paulus in kettings, en soos Victor Frankl in ‘n kamp van
die dood. Ons kan in die krag van die Heilige Gees kies
om elkeen wat ons verrinneweer, beledig, inloop,
ontnugter, teleurstel of skade berokken, te vergewe!
Dit is die opdrag van Hom wat ons vrygemaak het,
in Markus 11:25.
Daar is vyf lewens-bepalende dinge in ons elkeen se lewe:
Die kruis
Die opstanding.
Die wedergeboorte.
Die wandel met die Heilige Gees.
Die groot vryheid ten opsigte van gesindheid.
Jesus het ons deur sy kruisdood van ons verlede bevry.
Omdat Hy uit die dood opgestaan het, sal ons vir ewig leef.
Hy skenk die nuwe lewe aan ons deur die wedergeboorte.
En Hy gaan voort met sy werk in ons deur die Heilige Gees.
Daarom kan en moet ons leef met die gesindheid van Jesus
Christus in ons: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees
wat daar ook in Christus Jesus was:...” – Filippense 2:5.
Jou gesindheid kan jou vry maak!
Ernest