Natuurlik is beplanning byna altyd ‘n goeie ding.
Maar wonders en wendings kom nie deur deeglike
beplanning nie. Daar gebeur eenvoudig wonders
wanneer jy dit wat jy het – offervaardigheid,
potensiaal, talente, liggaamskrag, energie,
middele en gewilligheid – selfs sonder beplanning
eenvoudig tot beskikking van die Here stel!
Dink maar aan die seuntjie wat die vyf brode en
twee vissies vir Jesus gegee het. Sy hele hart, siel
en verstand was daardie dag die Here sin. Wanneer
Jesus in Matteus 14:17-18 sê hulle moet dit vir Hom
bring, dan gee die seuntjie dit eenvoudig. Wat dus
werklik saak gemaak het, was nie die soort gawe nie,
maar die gesindheid waarmee dit gegee is.
Hier begin wonderwerke. Hier begin elke wending
waarby kinders van die Here betrokke is. Die oplossing
en die wonder begin altyd daar waar ‘n mens naby aan
die Here Jesus kom, en waar jy met alles wat jy is en het,
jou tot beskikking van die Here stel. Daar is geen vooraf
analise nie, of fyn beplanning nie, of lyste wat ingevul
moet word nie, geen vergelyking met wat ander gee nie,
geen angsvalligheid, of spanning, of valse beskeidenheid
nie. Jy kom eenvoudig naby aan die Here en gee jou alles
wat jy is en het vir Hom.
So het die evangelie deur die eeue geloop, soos ‘n
veldbrand! Die seuntjie het sy brode en vissies gegee,
Stefanus het sy lewe gegee, die vroue het hul aardse
besittings gegee, Paulus sy skryftalent en sy lewe,
Petrus die res van sy lewe. Wat gebeur het is dat almal
van hulle begin bely en leef het:
“Om te lewe is vir my Christus” – Filippense 1:21.
Die wonder, die wending, en die openbaring van die krag
van God begin nooit by goeie beplanning nie. Die wonder
begin in ‘n hart wat brandend geword het vir Jesus Christus.
Gee jou hart vir die Here! Nie net ‘n stuk goeie beplanning
om vir Hom te probeer lewe nie. Gee jou hart!
Gee jou hele lewe!
Ernest