Jesus vertel die briljante gelykenis van ‘n regter
wat so vasgevang is in sy eie kokon van mag,
dat hy geen eerbied meer het vir God of mens nie.
Hierdie regter kry te doen met ‘n weduwee wat
aanhou smeek by hom. Sy gee eenvoudig nie op nie.
Die weduwees in die tyd van Jesus was meestal in
haglike posisies. Hulle het eintlik geen regte gehad
nie en mense het hulle sleg behandel. Hierdie vrou,
sonder grondwetlike regte, verskyn keer op keer
voor die regter. Die regter is sonder hart vir haar.
Uiteindelik gee hy gehoor omdat sy weier om haar
pleit-oproepe te staak.
Lukas 18:1 sê hierdie baie belangrike waarheid:
“Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik
te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder
om moedeloos te word.”
Hoe sou die lewe en ons geestelike groei nie verander
as ons net in gebed sou volhard nie! Ondenkbare
veranderings kom saam met gebed! Deur gebed.
Deur die Here wat kies om deur ons gebede te werk!
Die vrou van die gelykenis het oor ‘n bepaalde situasie
gebid. En die regter het uiteindelik iets aan die situasie
gedoen.
Dikwels gebeur daar in antwoord op ons gebede ‘n
ander wonderwerk. Ons bid ten opsigte van die doring
in ons vlees, en God kom doen ‘n wonderwerk ten
opsigte van die doring in ons gees!
Ons ontdek dat juis ons belydenis in afhanklikheid van
die Here in ons gebede, antwoorde bring van die Here,
soos vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg. My krag
kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
2 Kor. 12:7-9.
Wanneer ons volhard in gebed,
sal ons God se genadige antwoord beleef!
Ernest