Hoe dikwels neem ons ons nie voor om
iets te doen nie, en doen dit dan nie.
Veral Nuwejaarsvoornemens. Gou-gou
is ons terug net waar ons was. En ons
rasionaliseer met ‘n honderd en een
redes hoekom ons nie daarby uitkom nie.
Ons vaar nie noodwendig sleg nie,
maar ons doen maar weer wat ons gedoen
het. Ons hardloop weer in dieselfde baan.

Wat is dit wat ons ontwapen om by ons
goeie voornemens te bly?
Vir die meeste van ons is dit “tyd”.
Ons druk soveel dinge in ons dag in.
Ons laat toe dat ander ons dag vir ons
oorlaai tot ons nadeel.

Volgens die Bybel is tyd ‘n gawe.
‘n Goddelike geskenk! Die Bybel leer
ons dat daar ‘n tyd vir elke ding is.
Prediker 3:11: “God het elke ding gemaak
dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het
ook aan die mens ‘n besef gegee van die
onbepaalde tyd.”

Ons kan nie alles op dieselfde dag nie!
Onderskei tussen belangrike sake en
dringende sake. Jesus het dit gedoen.
Wanneer Hy eenkant by sy Vader moet wees,
dan doen Hy dit! Ons doen te veel, doen dit half,
en word oormoeg. So laai ons ongelooflike druk
op onsself. Ons word siek van ongesonde spanning.

Iemand het by geleentheid gesê:
“Moenie besiger wees as wat die Here jou wil hê nie”.
Ons is te besig vir die Here...

Ernest