Ons praat dikwels daaroor dat ons bid, en bidders is.
Ons sê baie maklik “ek bid vir jou”. Doen ons dit regtig?
Gebedskrag kan regtig nie geveins word nie.
‘n Getroue gebedslewe moet in stand gehou word deur
moeite daarmee te doen, bo en behalwe dat ons gereeld
“met die Here praat”, so deur die loop van die dag.
Gebed word in die praktyk van die lewe gesien,
en nie net “gehoor” nie!
Ons sê dat ons bid, maar ons praat saam met die
doemprofete, asof ons nie gebid het en seker is van
God se trou en sorg nie!
Ons sê dat stiltetyd saam met die Here vir ons belangrik is,
maar ons kom, deur eie toedoen, nie daarby uit nie.
Die keuse of ons dit doen of nie en die feit of ons daarby
uitkom of nie, lê volledig by onsself.
Ons sê “ek bid vir jou”, maar vergeet dit gou.
Die Here het soveel beloftes in sy Woord oor gebed,
en ons in nood. Dink maar net aan Jesaja 66:2,13:
“Ek slaan ag op die mens in nood. Soos ‘n moeder haar
kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel”...as ons
maar net regtig wil bid en by die Here wil leef!
Hoe kan ons gebed as bron van lewende water verlaat?
Meer nog, eintlik die Here as bron van lewende water verlaat?!
In Jeremia 2:13 sê die Here: “Hulle het My, die bron van
lewende water, verlaat, en vir hulle waterbakke uit klip gekap,
waterbakke wat gebars is, en nie water hou nie”.
Ons moenie op die mensgemaakte waterbakke van die lewe
vertrou nie, maar op die Bron van lewende water, God!
Kom ons gaan terug na stil word by die Here, al praat ons
deur die dag ook met Hom. Dikwels word Hy maar net deel
van ons program en prioriteite. Stiltyd by die Here is egter
gefokus op Hom, alleen!
Kom ons gaan bely ons skeefgetrekte prioriteite.
Kom ons gaan bid! Eers dan kan ons leef wat ons glo, en bid.
Ernest