Gebed veroordeel nie. Gebed bid!
Ons kan maklik in gebed mense veroordeel.
Ons bid vir hulle en oor hulle, asof ons vir God
besluit wat van hulle. Bid opreg voor die Here,
bewus van die genade waarin jy leef,
en waar jy was, en waarheen jy nog op pad is!
Bid nederig en verootmoedigend.
Hoe ons oor mense dink of bid is nie die sleutel
wat die koninkryk van God oopsluit of toesluit nie.
Net God doen dit. Die kruisdood en opstanding
van Jesus Christus is vir almal. Letterlik almal.
Dit is vir almal die enigste toegang tot lewe.
Niemand, maar niemand, is bo die ander verhewe
nie. Nie eers ons wat glo bo die wat nog nie glo nie.
Ons almal het in die geveg tussen lig en duisternis
beland. Ten opsigte van ons almal is niks vir God
onmoontlik nie. Elke woord aangaande die almag
van God is vir almal waar. God se almag het met
die ganse menslike toestand en konteks te doen.
Dit raak ook elke toestand en saak in my eie
persoonlike lewe. Niks is vir God onmoontlik nie.
Nie in my lewe nie, en ook nie in die lewe van ander
nie. Bid daarom, bewustelik hiervan, nederig en
afhanklik van die Here, ter wille van sy koninkryk,
en sy eer alleen.
Die Here ontmoet ons waar ons is. Maar ek is ook
deel van die gemeente, en die gemeenskap,
en die wêreld. Gebed is nie net waar ek alleen vromer
en vromer word, en heiliger en heiliger word nie.
Gebed behels my hele lewe, saam met my medemens,
ter wille van die Here alleen!
Ernest