Na die opstanding van Jesus is ‘n baie belangrike
vraag aan elkeen van ons: Waarheen is jy op pad?
Gelowiges weet nie altyd nie. Hulle is dikwels
onseker, selfs of hulle die ewige lewe het!
Jesus se woorde aan Filippus is baie belangrik:
“Volg My!” – Johannes 1:43.
‘n Klompie teologie-studente het in die studie-lokaal
dambord gespeel in plaas van om Bybelstudie te
doen oor ‘n bepaalde onderwerp, soos die dosent
gevra het. Toe die dosent onverwags op hulle afkom
was hulle baie verleë. Hulle het gou in Bybelstudie-
groepe verdeel. Die dosent het gesien dit is ‘n
“teachable-moment”, ‘n moment waar hy hulle iets
kon leer, juis deur dit wat hulle doen.
Hy het geglimlag en gevra of hulle die drie belangrikste
reëls van dambord ken. Hulle was te skaam om te
reageer, al het hulle dit geken. Die dosent het
voortgegaan om die reëls te verduidelik:
Eerstens mag ‘n mens nie twee skuiwe tegelykertyd
maak nie.
Tweedens mag jy net vorentoe skuif.
Derdens, wanneer jy die laaste ry bereik het, kan jy
skuif net waar jy wil.
“Dit is wat die Bybel ook leer.
Dit is wat dit beteken om Jesus te volg”, het hy gesê.
Hy het toe verduidelik: Moenie jou lewe met meer
as een skuif op ‘n slag versmoor nie.
Hou die doel van jou lewe vir die Here duidelik voor oë,
naamlik om ‘n dissipel van die Here te wees.
Jy sal eers waarlik vry wees as jy by die laaste ry uitkom:
wanneer jy God bo alles liefhet, en jou naaste soos jouself.
Die dosent wou hulle verleentheid gebruik om hulle
wysheid te leer. Hulle het dit nooit vergeet nie.
Ons kan ook hierdie wysheid volg.
Dietrich Bonhoeffer het gesê:
“If you board the wrong train, it is no use running along
the corridor in the other direction.”
Al manier om Jesus te volg is om in sy voetspore te loop.
Hoe doen jy dit? Deur te doen wat Jesus doen.
Deur al meer en meer die beeld van Jesus te vertoon.
Ook vir jou sê Hy, soos vir Filippus: “Volg My!”
Ernest