Ons hoor dikwels dat mense vandag nog
sterf vir Jesus omdat hulle hul geloof ten
volle uitleef. Dink net terug aan die dissipels
van die Here Jesus. Volgens oorlewering het
die volgende met hulle gebeur:

Matteus is met ‘n swaard doodgeslaan.
Markus het gesterf nadat hy wreed deur die
strate gesleep is.
Lukas is in Griekeland aan ‘n olyfboom opgehang.
Johannes is in ‘n pot vol kokende olie gesit maar
het die dood wonderbaarlik vrygespring. Hy is
daarna na Patmos verban.
Petrus is onderstebo gekruisig in Rome.
Jakobus die Grote is onthoof in Jerusalem.
Jakobus die Mindere is van ‘n tempeltoring
afgegooi en met stokke doodgeslaan.
Bartolomeus is lewendig verbrand.
Andreas is aan ‘n kruis vasgemaak en hy het
nogtans vir sy vervolgers gepreek totdat hy
aan die kruis gesterf het.
Tomas is in Coromandel met ‘n lans deurboor.
Die ander Judas is met pyle doodgeskiet.
Mattias is eers gestenig en toe onthoof.
Barnabas is by Salonika gestenig.
Paulus is verskeie kere gemartel, en is later
deur keiser Nero in Rome onthoof.

Is jy ook bereid om vir jou geloof in Jesus
Christus te sterf?
Dan moet jy mos ook bereid wees om voluit
daarvoor te leef!
William Thackeray sê in sy boek “The History
of Henry Esmond”:
“’Tis not the dying for a faith that’s so hard,
Master Harry – every man of every nation has
done that – ‘tis the living up to it that’s difficult.”

Wat die Here van jou vra is om elke dag vir Hom
te leef met al die geloofsoortuiging waarvoor jy
bereid sou wees om vir Hom te sterf!
Leef uit wat jy glo!
Onthou ook Matteus 5:10: “Geseënd is dié wat
vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want
aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Ernest