Volgelinge van Jesus Christus doen dinge
wat uitstaan vir die Here. Hulle geloof het
‘n invloed op die mense rondom hulle.
Dink maar aan Abraham. In Genesis 12:7
lees ons dat Abraham ‘n altaar vir die Here
gebou het wat aan hom verskyn het.
Ons bou met ons hele lewe altare wat vertel
Wie God is en wat Hy doen.
Eerstens vertel dit van jou kontak met God.
Dissipels van die Here is mense wat gedurig
God se teenwoordigheid opsoek. Gebed is
soos asemhaling. Sonder suurstof gaan jou
liggaam dood. Sonder hierdie gebed-kontak
gaan jou geloof dood. Ons sê dikwels ons is
so besig dat ons nie genoeg bid nie. Iemand
het gesê: “Ek is te besig om níé te bid nie!”
Tweedens is ons altare ‘n getuienis wat vir
mense sê dat ons hele lewe op Christus
gebou word. Ons vertrou God met ons hele
lewe.
Abraham se geloof en sy altare het impak
op ander mense gemaak? Beïnvloed ons
ook mense met ons geloof?
Ons kan nie ons geloof net in ons binnekamer
uitleef nie. Ons moet altare bou wat as bakens
uitstaan vir mense wat die Here wil volg.
Franklin Roosevelt, die VSA president, het tydens
die Tweede Wêreldoorlog meer as twee kilometer
met sy rolstoel kerk toe gegaan. Toe een van die
gelowiges dit sien het hy gesê: “Ek aanbid sommer
in die veld, of enige ander plek.” Roosevelt het
geantwoord: “Yes, but no one will ever suspect
you of it.”
Ons rig nie altare op om gesien te word nie.
Maar ons doen die regte dinge om ander mense
te help om dit ook te doen. Ons kan nie net
“binnekamer” Christene wees nie.
Dietrich Bonhoeffer het gesê: “’n Christen wat
wegkruip, wat skaam is, het opgehou om Christus
te volg.”
Met elke ding wat ons met geloofsoortuiging doen
of sê, bou ons ‘n altaar vir die Here wat sê:
By ons is God álles!
Ernest