Dissipels luister na die stem van die Here
en volg Hom. In Johannes 10:27 sê Jesus self:
“My skape luister na my stem; Ek ken hulle,
en hulle volg My.” Dit is opvallend dat Jesus
sê Hy ken ons. Die goeie Herder ken ons!
Ons is nie net ‘n nommer nie. Hy ken jou op
jou naam en Hy roep jou op jou naam.
Dit is so belangrik om dit te weet. Hy ken jou!
En dan die volgende waarheid: die skape ken
sy stem. Hulle weet dadelik Wie met hulle praat.
Ons weet wanneer die Here met ons praat!
Ons herken en ken sy stem.
‘n Toerus wat in die Midde-Ooste was vertel van
sy belewenis met ‘n groep herders en hul skape.
Terwyl die herders gestaan en gesels het met
mekaar, het hulle skape in een groot trop
deurmekaar geraak. Hulle het rustig bly voort
gesels asof dit nie ‘n probleem is nie. Na ‘n tydjie
het een van die herders na die skape gedraai en
geroep: “Manah, Manah, Manah! In Arabies
beteken dit: “Volg my!” Hy het begin loop en
dadelik het sy skape uit die trop hom begin volg.
Die ander skape het bly staan. Een van die ander
wagters het dieselfde geroep en sý skape het
hóm gevolg. En ook so met die res van die herders.
Dit was vir die toeris verbasend! Die toeris wou dit
toets en het gevra of hy dit kan roep, en geen
skaap het op sy roep gereageer nie.
Skape en hulle herder ken mekaar.
Luister fyn na die stem van die Here.
Sy stem bevat vergifnis, vrede, veiligheid, vreugde,
liefde. Hoor sy stem en volg Hom in hierdie wêreld
met sy oorverdowende lawaai.
Hoe kan ons die Here se stem leer ken en hoor
in die lawaai van hierdie wêreld?
Deur die dissipline van Bybel lees en gebed.
Vra telkens jouself wat die gedeelte sê oor God,
en jouself, en wat jy moet gaan doen.
As jy Hom nie daar in die stilte ontmoet nie,
gaan jy moeilik sy stem herken in die gejaag en
geraas van die lewe.
Ernest