Om die Here in jou lewe te hê,
om vir die Here te lewe, lei tot vreugde,
en nie net geluk nie.
Daar is ‘n groot verskil tussen vreugde en geluk.
‘n Baie groot verskil! Baie mense sien geluk in geld,
of goed, of sukses, afwesigheid van probleme,
goeie uitslae...
Geluk word gesien as ‘n beskerming van,
of versterking van ons lewe.
Geluk is iets wat mét jou gebeur.

Daarteenoor is vreugde iets wat ín jou gebeur!
Jy kan vreugde hê sonder “goed” in jou lewe.
Vreugde oorspoel jou lewe wanneer jy God in die
kern van jou lewe ontdek. Vreugde oorweldig jou
wanneer jy jou hand in God se genadige hand sit.
Vreugde plaas jou voete stewig op die grond in
‘n wankelende wêreld! Jy sién God in die wêreld,
selfs ten spyte van die wêreld. Ware vreugde
bring ook ware geluk.

Hoe verduidelik mens vreugde? Iemand het gesê:
“Met een woord: Jesus!” Dit laat ons dink aan Lied 492
van die Liedboek wat begin met die woorde:
“In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus,
U is Heer...”, en verder “...Heer, U bring vreugde,
vrede en vreugde, ons is nou geen sondaars meer.
Ons is oorwinnaars, meer as oorwinnaars,
deur die liefde van ons Heer.”

Wanneer ons gevul word met die vreugde van
“God in ons”, die Heilige Gees wat in ons woon,
dan roep ons saam met Paulus uit dat dit nie meer
ons is wat lewe nie, maar die Here in ons!
Dit is die diepste vreugde!

‘n Kind het eendag gesê: “Ek kan in jou oë sien dat
jou hart die hele tyd lag!”
Iemand anders het van ‘n kind van die Here gesê:
“It is such a joy to be in his presense, you can feel Jesus
in his heart, and you can see the “Son” in his eyes.”
Dit is die verskil tussen vreugde en geluk.
Geluk is iets wat mét jou gebeur.
Vreugde is iets wat ín jou gebeur,
en jou héle lewe omkeer!

Ernest