John Grisham is een van die bekendste skrywers

in die wêreld. Sy eerste blitsverkoper was “The Firm”.

Dit handel oor ‘n jong man, Mitch McDeere, wat vir

‘n regsfirma werk. Stelselmatig ontdek hy dat hulle

alles van hom weet! Hulle luister hom af, agtervolg

hom, en het versteekte kameras in sy huis waarmee

hulle hom en sy vrou dophou.

Dit maak hom paniekerig, en dit lei tot ‘n spanningsvolle

fliek waarin hy hulle korrupsie uiteindelik ontbloot.

Die rede is dat hulle een ding nie van hom geweet het

nie: Hy kon hulle uitoorlê omdat hulle nie sy gedagtes

kon lees nie!

Dawid sê in Psalm 139:1-2 dat God ook alles van ons weet,

letterlik alles! Hy ken selfs ons gedagtes! Vers 1-2 sê:

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek

opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle

by my opkom.” God weet wat ons gedagtes gaan wees,

selfs nog voordat ons weet! God weet alles van jou,

sien alles van jou, en is altyd by jou!

Daar is egter ‘n baie groot verskil met die van Mitch in

“The Firm.” Die verskil is dat dit jou vul met vreugde!

Dawid is vol vreugde daaroor! Dink net:

God is deurgaans by ons in sy voorsiening, sorg en liefde.

Hy is jou alomteenwoordige Vader wat jou eenvoudig

verwonderd laat oor alles. Hy ken jou hartseer en jou

vreugde, jou spanning en jou vrede, jou gesondheid en

jou siekte, jou hele lewe! En jy is in sy hand!

Dit is natuurlik heeltemal andersom vir iemand wat nie

vir God en saam met God wil leef nie. Vir so iemand kan

dit ‘n Mitch McDeere lewe wees! Nog erger. Want God

ken ook gedagtes, wat “The Firm” nie kon doen nie.

God weet presies wat in ons lewe aangaan.

Juis dit gee ons soveel vreugde! Ons hoef selfs nie eers

die slegte nuus te breek oor ons sonde nie. Juis omdat

ons dit nie kan wegsteek nie, kan ons op God se

uitnodiging met vrymoedigheid na Hom toe gaan om

die saak uit te maak!

Dink net hoe sou dit wees as God nie alles van ons af

geweet het nie, en ons probeer wegsteek en ‘n leuen

lewe.

Daar is juis soveel vreugde in ons lewe,

omdat ons Vader alles van ons weet! Dankie Here!

Ernest

God sien dwarsdeur ons!
- Details