Psalm 147:5 word so in Die Boodskap vertaal:
“Die Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat
Hy nie weet nie.” Ja, God vergeet ook nie.
Ons vergeet mekaar so maklik. Ons vergeet ook
mense wie God oor ons pad gebring het!
Babe Ruth was jare gelede die beste bofbalspeler.
Johnny Sylvester was ‘n seun wat deur ‘n perd raak
geskop is en sy kans op oorlewing was skraal. Hy het
een begeerte gehad. Hy wou sien hoe Babe Ruth
‘n “home run” slaan voor hy sou sterf. Hulle het ‘n
telegram aan Babe Ruth gestuur en hy het terug laat
weet hy sou dit net vir Johnny doen. Met die 1926
World Series het die New York Yankees teen die
Cardinals gespeel. Babe Ruth het drie “home run’s”
geslaan en die twee spanne het ook getekende
bofballe aan Johnny Sylvester gestuur.
Kort daarna het ‘n oom van Johnny aan Babe Ruth
gaan dankie sê en vertel hoe ‘n groot verbetering
dit in die gesondheid van Johnny teweeg gebring het.
Babe Ruth was verbaas oor die oom se dank en wou
weet wié die Johnny Sylvester nou eintlik is...?
Hy het heel gou van hom vergeet!
Belangrike mense kan gou van ander vergeet...
Groot mense kan gou van die kleintjies in die
samelewing vergeet. Ons vergeet maklik mekaar!
Maar nié God nie! Hy vergeet niemand nie.
Niemand is vir Hom te klein nie. Onbelangrik nie.
J.I. Packer het lank terug in ‘n boek van hom,
“Knowing God”, geskryf:
“I am never out of God’s mind. There is no moment
when His eye is off me, or His attention distracted
from me, no moment when His care falters...”
Wat ‘n vreugde is dit nie! God vergeet nooit ons
name nie! Hy sê in Jesaja 43:1:
“Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”
Dit is ons grootste vreugde!
Ernest