Dit is so bevrydend en gee soveel vreugde
aan ons om te weet: God is oral!
God self sê in Jeremia 23:24: “Niemand kan
in ‘n geheime plek wegkruip sonder dat Ek
hom sien nie. Ek is oral in die hemel en op
die aarde, sê die Here.”
Hieroor sê die digter in Psalm 139:7 in
Die Boodskap: “U is oral. Daar is nie ‘n plek
waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.”
God se alomteenwoordigheid is ‘n beeld wat
sê: as jy aan God dink, kan jy jou iemand
voorstel in wie jy jou as’t ware oral vasloop.
Die digter van Psalm 139 sê dat hy partykeer,
veral as hy verkeerd gedoen het, vir God wou
wegkruip, maar hy het agtergekom dat hy
oral vir God vind!
Ons mag ook partykeer ver van God af voel,
maar God is altyd by ons. Hy is veral op ‘n
besondere manier teenwoordig by hulle wat
Hom soek en ook spesiaal by mense wat Hom
nie meer kan vind nie. Hy vind ons!
Wanneer ons sê God is alomteenwoordig,
altyd en oral teenwoordig, dan is dit bedoel
om gerus te stel en bevryding, vrede en
vreugde te gee.
Daar is geen tyd of plek waarin God my ooit
in die steek sal laat nie.
God se teenwoordigheid is altyd gevul met
Sy liefde en genade!
Ernest