Hoop beteken ook om te weet die
onmoontlike is inderdaad moontlik.
Lukas 1:37: “Niks is vir God onmoontlik nie.”
Dit is die verhaal van die Ou Testament en die
Nuwe Testament. Die hele Bybel beklemtoon dit.
Niks is vir God onmoontlik nie. God is die God
wat juis die onmoontlike doen.

God skep alles uit niks! Met Abraham en Sara...
kinders op ‘n “onmoontlike ouderdom. Met Jesus,
uit ‘n maagd gebore, en Hy staan op uit die dood.
Juis dit gee weer vir ons lewende hoop!
Jesus se opstanding uit die dood. Hoop gee nooit
op nie. Nie oor ‘n situasie nie, en ook nie oor ‘n
mens nie. Want by God is die onmoontlike moontlik!
Die moontlike is ons werk. Die onmoontlike is God
se werk. Dit is geloof. Die opstanding van Jesus gee
ons lewende hoop.

Mense met hoop is deel van die antwoord.
Mense sonder hoop is deel van die probleem.
Hoop weet God is in beheer en sal doen wat Hy wil.

Overduin,‘n Nederlandse leraar, was in die
konsentrasiekamp in Dachau, in die Tweede
Wêreldoorlog. Die leraars het elke dag die dood in
die gesig gestaar. Hulle het mekaar bemoedig met
hoop en toe begin bid:
Dat hulle ‘n nuwe bevelvoerder kry.
Dat hulle oorgeplaas word na die kaserne waar die
Duitse leraars bly.
Dat hulle ligter werk kan doen.
Dat hulle meer tyd vir slaap sou kry.
Dat hulle pos van hul geliefdes kon ontvang.
Die pessimiste het gesê dit sal nooit ooit gebeur nie.
Die met hoop het bly bid. Met hoop vasgehou aan
die onmoontlike wat vir God moontlik is.

Spoedig het hulle briewe begin ontvang.
Hulle is oorgeplaas na die kaserne waar die Duitse
leraars gebly het.
Hulle kon nou ligter werk doen.
Hulle kon baie langer slaap.
Hulle het ‘n nuwe bevelvoerder gekry.
Bybelse hoop beteken die onmoontlike is moontlik,
want by God is niks onmoontlik nie.
Dit is inderdaad lewende hoop!

Ernest