Hoop is nie vir ‘n kind van die Here “iets” nie,
maar Iemand! Dit is ‘n Persoon! Christus Jesus!
In 1 Timoteus 1:1 sê Paulus van wié die brief aan
Timoteus kom, en in opdrag van Wie dit kom:
“Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus in opdrag
van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop.”
Let op: “...van Christus Jesus ons Hoop.”
Ons Hoop is Christus Jesus! Hoop met ‘n hoofletter.
Christus Jesus die Persoon.
Kolossense 1:27 verduidelik dit uitstekend:
“Die inhoud van die geheimenis is: Christus is in julle.
Hy is julle hoop op die heerlikheid.”
Hoop is die Persoon Jesus wat in jou bly! Christus,
ons Hoop, bly deur sy Gees in elkeen van ons.
Die dissipels se lewe het dramaties verander na die
opstanding van Jesus Christus. Hulle kon weer die
lewe in die oë kyk. En tot vandag toe is Christus Jesus
ons Hoop.
Victor Frankl, die bekende psigiater wat ‘n gevangene
was in die Duitse konsentrasiekampe, vertel hoe
mense met hoop in hierdie konsentrasiekampe
opgetree het. Heeltemal anders as die res.
Hulle het altyd ander mense in die barakke besoek om
hulle te bemoedig en te versorg. Hulle het hulle laaste
stukkie brood vir ander mense gegee. Hulle het elke
dag ander mense eerste gestel, in die haglikste
omstandighede. Hy skryf dat hy een ding geleer het:
Hulle optrede was ‘n onteenseglike bewys dat jy alles
van ‘n persoon kan wegneem, maar nooit ware
Christelike hoop nie.
Christene moet hierdie tipe mense wees waarvan
Frankl vertel. Want Christus Jesus woon in ons,
en niemand kan Hom ooit uit ons ruk, of ons uit sy
hand ruk nie. Die opstanding van Jesus Christus is ons
lewende hoop. Dit beteken nie dat ons nié gaan
swaarkry nie, maar wanneer ons swaarkry, leef ons
daarin en daardeur met die opstandings-krag van
Jesus Christus, en Christus Jesus self ín ons,
as ons Hoop! Hy is ons Hoop! Leef saam met Jesus.
Ernest