Hebreërs 11:1 is ‘n kragtige teks vir die
uitlewing van ons Christelike hoop:
“Om te glo is om seker te wees van die
dinge wat ons hoop, om oortuig te wees
van die dinge wat ons nie sien nie.”
Hoop en geloof word verbind met ‘n nuwe
manier van lewe! Om seker te wees.
Om oortuig te wees in die lewe vir die Here.
Om as nuwe mense te lééf met hoop!
In die wêreld word geluk gekoppel aan
verbygaande dinge, verbygaande goed.
Dit is egter die wêreld waar Efesiërs 4:23-24
ter sprake kom vir ons as kinders van die Here:
“Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as
nuwe mense wat as die beeld van God geskep is.”
In ‘n wêreld waarin ons sukkel om die regte
besluite te neem, word Jesus ons besluitneming.
Jesus is eerlikheid en omgee vir ander.
Hy is waarheid.
In ‘n wêreld waar verhoudings sukkel om te werk,
is Hy verhoudings wat werk. Hy is vergifnis. Hy is
ware blydskap. Hy is Hoop. Hy is oorvloedige lewe.
Sonder die opstanding van Jesus en die waarheid
en realiteit daarvan in ons eie lewe, is ons niks.
Kinders van die Here leef voluit die gevolge uit van
Jesus se opstanding. Ons lewe die opstandings-lewe.
Dit is die beste manier om die opstanding van Jesus
te getuig. Die Hoop in ons. Die lewe! Juis dit het
mense in die Bybel se tyd oortuig van die waarheid
dat Jesus regtig opgestaan het. Die wyse waarop
kinders van die Here se lewe dramaties verander het
toe Hoop in hulle kom lewe het. Christus die Here.
Petrus verander van ‘n lafaard wat Jesus drie keer
verloën na ‘n rots wat vir niks terugdeins nie –
sy toespraak in Handelinge 3.
Die dissipels se skrik is weg, en hulle leef hul geloof
en oortuiging uit tot die dood toe.
Paulus, die vervolger van die kerk van die Here,
word die groot volgeling van die Here.
Vandag gebeur dit nog! Kinders van God wat die
opstandings-lewe lééf!
Ernest