“Die Here het regtig opgestaan en aan
Simon verskyn.” – Lukas 24:34.
Daar is baie belangrike dinge rondom die
opgestane Christus wat ons moet raaklees.
Eerstens: Jesus Christus het verseker opgestaan.
Maar hierdie opstanding bring nie afstand
tussen Hom en sy volgelinge nie. Inteendeel!
Dit word beklemtoon deur die woorde:
“Hy het aan Simon verskyn.” Hy is steeds die
wonderlike Here wat stukkende mense heelmaak.
Hoe het Simon-Petrus dit nie nodig gehad nie.
Die gebroke Petrus het hom eintlik in Jesus
vasgeloop. Maar daar is altyd hoop op herstel
in die teenwoordigheid van die Here. Niks kan
ons skei van die liefde van die Here nie, want,
al het Petrus Hom verloën, verskyn Jesus nogtans
aan hom!
Hoop laat jou besef dat niks teen Christus
bestand is nie. Hoe moes Petrus nie gevoel het
toe hy hom skielik in Jesus vasloop na Jesus se
opstanding nie!
Verrassend en lewens-veranderend!
Juis in ons gebrokenheid kom die Here na ons toe.
Dit is ons hoop! Kinders van God leef altyd en oral
in ‘n Jesus gevulde wêreld. Waar God teenwoordig is,
daar is genade, en waar genade is, is hoop. Hoop vir
‘n gebroke wêreld.
Die Here Jesus het aan Petrus verskyn! Net so seker is
Hy elke dag in die Gees by ons! God besoek ons dikwels,
maar ons is selde gereed. Ons mis Hom. Ons moet ons
oë oopmaak en ook tyd maak om Hom raak te sien en
raak te leef. Jesus verskyn vandag aan jou!
Dit is genade en hoop!
Ernest