Lewensmoeg ?
Athur Gordon vertel in sy boek “The Turn of the Tide” van sy “blues”.
In Afrikaans sou jy seker kon sê “lewensbloute”.
Hy was moeg geleef en vasgevang in die engheid van sy bestaan.
Alles was vaal en vervelig.
Sy dokter het hom ondersoek en kon niks liggaamlik fout vind nie.
Hy het aan hom ‘n eenvoudige en amper belaglike voorskrif gegee:
“Gaan na ‘n plek toe waar jy baie gelukkig was.
Neem voedsel vir die maag, maar niks vir die verstand nie.
Jy mag nie praat, skryf, lees of na enige iemand luister nie.
Elke drie ure moet jy net een van die vier voorskrifte lees wat ek jou gee,
en dit regtig doen.”
Gordon is die volgende dag na ‘n strand toe.
Ongelowig maar desperaat maak hy vroegoggend die eerste voorskrif oop:
“Luister aandagtig.”
Opstandig het hy gedink hoe op aarde hy drie ure na niks gaan sit en luister!?
Een na die ander klank het na hom begin deurdring.
Later kon hy selfs die stiltes hoor!
Al luisterende het hy vrede begin ervaar.
Vir die tweede drie ure het hy die tweede papiertjie gelees:
“Roep jou verlede in herinnering.”
Drie ure lank het Gordon gelag, en gehuil, kwaad geword,
verlang, en die gisters van sy lewe herwaardeer.
Daar het ‘n groeiende warmte in sy hart gekom.
Die volgende drie ure was:
“Ondersoek jou motiewe.”
Hy het intens nagedink oor hoekom hy doen wat hy doen.
Waarom werk hy so hard.
Hoekom verwaarloos hy sy gesin, sy liggaam, sy godsdiens ?
Hy moes nadink oor sy waardesisteem.
Hy het nuwe insigte gekry oor waarop hy sy tyd en energie moet spandeer.
Die laaste drie ure moes hy…..
“al sy bekommernisse op die grond neerskryf.”
Met ‘n skulp het hy dit een vir een gedoen.
Van sy hart afgehaal en op die sand geskryf.
Hy het rustig weggestap en dit daar gelos,
sodat die gety dit kon uitvee en wegneem.
Voor hom het die nuwe lewe gedans!
Jy kan uit jou donkerte kom.
Jy kan opkyk na die Groot Geneesheer.
“Ek kyk op na die berge:
Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
Psalm 121:1-2.
Ernest