God is aan die woord in die Woord.
Daar is soveel opinies oor die inhoud van die Bybel.
Ons weet dat ons ook maklik die Bybel lees met ons
eie bril van vooroordeel, opvoeding, die kerk waarin
ons aanbid, en nog vele ander. Die bril wat ons dra
bepaal dan te maklik die boodskap van die Bybel.
Die vraag is: Watter bril dra jy? En is die bril skoon?
Met ‘n vuil bril sien ons ‘n dowwe en verdraaide
beeld van die werklikheid. Dikwels is die bril waarmee
ons na die Bybel kyk ook vuil en moet ons dit
skoonmaak om te sien wat die Bybel regtig sê.
Dit veronderstel grondige selfondersoek.
Ons lees maklik die Bybel met vooroordele en veral
net die tekste wat ons pas. Wanneer jy ‘n nuwe bril
kry sien jy soveel duideliker hoe die dinge nou eintlik
regtig lyk! Soveel meer detail. Soveel helderder beeld.
Ons elkeen het ‘n verantwoordelikheid om seker te
maak dat ons met die regte oë na die Woord van God
kyk. Dat ons “bril” nie vuil is nie. Dit begin by die wete
en erkenning, die belydenis met ‘n opregte hart dat
dit God self is wat aan die woord is in die Woord.
Ons kan so maklik besig wees met die interpretasie
van die Bybel uit ons eie oog, en dan uit die oog verloor
dat dit God self is wat aan die woord is.
Ons moet by een vertrekpunt begin:
Die Bybel is die Woord van God! Dit is God self wat
deur die Woord aan die woord is.
Mag dieselfde van ons gesê word as wat Paulus van
die gemeente in Tessalonika sê in 1 Tess. 2:13: “Ek kan
nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie.
Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel
het, het julle nie slegs ‘n paar menslike opinies oor God
aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord
aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord
van God.”
Inderdaad! Die Bybel is regtig die Woord van God.
Wees versigtig om te maklik te sê dat God dit sê,
en dat God dat sê...
Sê God dit regtig? Maak seker. Dit is ‘n baie groot
verantwoordelikheid om te sê: “Só sê die Here...”
Doen selfondersoek of dit jou interpretasie daarvan is,
en of dit God se woorde en sý wil is. Luister fyn na die
Heilige Gees wat deur die Woord van God met jou praat.
Ons moet ook mekaar hierin help en saam groei en soek
na die waarheid van God. Vers 13 sê verder:
“...Hy self werk nou in julle almal wat glo.” God praat.
En God werk deur sy Woord in ons wat glo.
Ernest