Ons lewe so maklik net ‘n daaglikse roetine.
Ons raak gewoond aan alles wat eintlik wonderwerke
en genade is. Ons raak so gewoond aan die son wat
elke dag opkom dat ons nie eers meer die grootheid
daarvan in ons eie lewe besef nie. Dit het in elk geval
nog elke dag van my lewe opgekom. Dit sal seker
môre ook. Ons vergeet die voorreg van lewe, asem haal,
verhoudings, die natuur om te kan eet, gesondheid...
Ons besef nie meer die grootheid , die andersheid,
die groot genade van dit alles nie. Vanoggend het iemand
wakker geword, en sy lewensmaat langs hom het nie
meer asem gehaal nie. Verlede week het ‘n ouerpaar se
kind nie huistoe gekom nie...motorfiets botsing.
Hoekom moet ons eers weer tot stilstand geruk word
voordat ons besef...

Net so het ons ook só gewoond geraak aan die Bybel,
dat ons die waarde daarvan verloor het. Ons verklaar
eerder die Skrif, as om dit uit te leef. Ons gebruik dit om
morele oorlog te voer, maar in ons eie lewe is dit nie
lewens-veranderend nie. Die Bybel word leë woorde,
waaroor ons baie kennis het, in plaas daarvan dat die
Woord van God ons hele lewe te bepaal.

Ons hoef nie eers tot stilstand geruk te word nie.
Besef dit noú en laat die Woord van God noú ‘n realiteit
in jou lewe wees, wat daagliks jou lewe rig op God se wil
vir jou. Die Bybel is deur die werking van die Heilige Gees
en die krag van God dinamiese en lewenskragtige woorde
van God wat jou hele lewe raak en rig. Dit is die lewende
God se lewende woorde wat ‘n lewende invloed op jou
hele lewe het, en aan jou lewende hoop gee!

1 Tess. 2:13: “...Julle het die lewende God se woord
aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord
van God. Hy self werk nou in julle almal wat glo.”
Glo die woorde van God. Leef die Woord van God uit
in jou hele lewe. Moenie eers tot stilstand geruk word nie.
Laat die momentum van die Woord van God jou hele
lewe bepaal. Laat die stukrag van die Heilige Gees jou
hele lewe in God se rigting dring,
deur die Woord van God.

Ernest