In die tyd na Jesus het baie mense tot
bekering gekom. Dit was egter nie maklike
tye nie. In 1 Tess. 2:14 sê Paulus aan die
gemeente: “...net soos hulle daar in Judea
onder die Jode moes ly as gevolg van hulle
geloof, ly julle nou ook onder julle eie
volksgenote.”
Om vir Jesus te kies was nie die maklike roete nie.
En vandag is dit steeds nie die maanskyn en rose
roete nie. In daardie tyd, en vandag nog, betaal
mense met hulle lewe vir hulle geloof! In ons eie
omstandighede is dit nie naastenby so erg nie.
Ons lewens is nie in gevaar as gevolg van ons geloof
nie. Tog raak dit in ons wêreld al moeiliker om op te
staan vir waarin ons glo. Die wêreld is nie ‘n
Jesus-vriendelike wêreld nie.
Het ons bang geword? Is ons te akkommoderend?
Wil ons nie ander ontstel nie? Is ek bereid om by
die werk op te staan vir waarin ek glo en in Wie ek
glo? Is ek bereid om in my eie huis op te staan vir my
geloof, en dalk geskel en mishandel te word?
Is ek bereid om vriendskappe te verloor ter wille van
my geloof? Baie mense gee hul geloof-getuienis kwyt
onder druk. Ons laat so maklik toe dat die moderne
wêreld en sienings tussen ons en God inskuif.
Ons bly stil oor onreg. Ons doen maar saam met die
stroom van die wêreld. Ons is nie meer bereid om vir
ons geloof te ly nie. Is jy regtig bereid om vir die Naam
van Jesus op te staan en te ly?
Staan jy ook vroeër op vir tyd saam met Hom?
Of gaan slaap later daarvoor? Dit is hier waar God my
wil sterk maak om ook daar buite op te staan vir Hom!
Mag ons nie twee keer dink om op te staan en te ly
vir die Here nie.
Ernest