Paulus het ander mense met soveel passie liefgehad.
Hy doen alles in sy vermoë om die evangelie by alle
mense uit te kry. Dit is merkwaardig hoe sy liefde
oorloop vir alle mense, selfs die wat hy glad nie eers
ken in die gemeente nie. In 1 Tess. 2:17 sê hy:
“My liewe broers en susters, ons was skaars weg
daar by julle, toe begin ek al na julle verlang.
Julle was die hele tyd in my gedagtes. Later het ek
so baie aan julle gedink dat ek besluit het ek moet
julle eenvoudig weer sien.”
Hy bly dink aan die mense in Tessalonika. Hy gee om.
Hy wil weer by hulle uitkom om hulle te help op hulle
pad van geloofsgroei. Hy wil hulle soveel as moontlik
leer oor die Woord van God. Paulus is passievol hieroor.
Liefde brand in hom vir sy medegelowiges, en ook vir
hulle wat nog die Here Jesus moet leer ken.
Het ons ook so ‘n passie om mense na die Here te lei,
en ook om by hulle betrokke te bly in terme van hulle
geloofsgroei? Ons is dikwels so selfgerig,
selfs ten opsigte van ons eie geloof. Ons is net daarop
gerig om vromer en vromer te groei,
en heiliger en heiliger te raak in eie geledere.
Ons kan regtig ook in ons verhouding met die Here en
ander mense, in terme van geloof, totaal selfgerig raak.
Ander mense raak so maklik eintlik in ons pad,
in plaas daarvan dat ons raaksien die Here stuur hulle,
óp ons pad! Ons dink maklik mense is ontydig, soek na
aandag, neem ons tyd op en verspeel ons energie.
Die verskil kom egter daarin wanneer die Heilige Gees
jou hart verander ten opsigte van alle mense!
Maak ‘n verskil in die lewe van mense.
Omgee word nooit vermors nie. Nooit nie.
Gee om met die Here se omgee.
Ernest