Wanneer dit vir Paulus duidelik is dat hy weens
onvoorsiene omstandighede nie gou weer in
Tessalonika gaan uitkom nie, soek hy ‘n
verteenwoordiger wat namens hom kan gaan.
Iemand met soveel passie soos hy. Iemand wat
net so sterk voel oor die saak, soos hy. Dit is
soos om ‘n goeie verteenwoordiger te soek vir
jou produk, ‘n goeie “rep”. Iemand wat hart en
siel glo in die produk, soos jy. Iemand wat
opgewonde is daaroor. Iemand wat die produk
net soveel op die hart dra as jy.

Paulus ook geweet hy is in die eerste plek ‘n
verteenwoordiger van Jesus by die mense in
Tessalonika, en hy moet iemand kry wat ook ‘n
verteenwoordiger van Jesus is, om na
Teassalonika te stuur. Iemand wat soos Jesus
omgee vir hulle, en hulle liefhet soos die Here
dit wil hê. Dit het swaar gegaan met die mense
in Tessalinika en hulle het regtig iemand nodig
om hulle te bemoedig. En dan kan Paulus nie
anders dink as om Timoteus te stuur nie!

In 1 Tess. 3:2 sê hy: “Toe ek in Atene gepreek het,
het ek later so baie na julle verlang dat ek op die
ou end besluit het om Timoteus na julle toe te stuur.
Hy is ‘n dierbare broer van ons almal. Hy staan saam
met my in God se diens en help my om die goeie
nuus oor Christus oral bekend te maak.” Wat ‘n
getuienis! Wat ‘n verteenwoordiger om te stuur.
Timoteus is duidelik ‘n verteenwoordiger van die
Here! Onthou die Genesis 3:26 teks wat sê ons is
God se verteenwoordigers! Timoteus dra God se
koninkryk op sy hart. Net soos Paulus brand hy om
God se verlossende boodskap by mense uit te kry.
Met net soveel passie as Paulus, gaan Timoteus.
Verteenwoordigers van die Here in Tessalonika.

Vandag nog het niks verander nie.
Ons is steeds die Here se verteenwoordigers.
Daar is steeds soveel mense wat in geestelike nood is.
En fisiese nood. Vandag nog word net so hard gesoek
na verteenwoordigers van die Here wat sal gaan na
mense in nood. Oral rondom ons. Is jy bereid om soos
Paulus en Timoteus die Here se liefde en boodskap
met passie uit te dra? Steek jy soos Timoteus jou hand
op om te gaan? Besef jy dat die Here jou wil stuur.
Moenie kyk of iemand anders sal “volunteer” nie.
Elkeen wat ‘n kind van die Here is, is ‘n gestuurde in
hierdie wêreld, ‘n verteenwoordiger van die Here by
alle mense!

Ernest