Vandag vier ons Hemelvaart.
Oor sy hemelvaart sê die Here Jesus in Johannes 16:7:
“Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek
nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees,
nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom
na julle toe stuur.”
Na sy hemelvaart sou die Here Jesus nou deur die
Heilige Gees by ons teenwoordig wees! Die Heilige
Gees maak dus Jesus teenwoordig in en by ons!
Die Heilige Gees het egter nie sy teenwoordigheid in
die hemel prysgegee toe Hy in ons kom woon het nie.
As derde Persoon van die Drie-eenheid van God is Hy
alomteenwoordig.
Ons aanbid ‘n wonderlike God! Hy staan nie eenkant
en hou ons op ‘n afstand dop nie. Hy het ons geskep om
in ‘n persoonlike verhouding met Hom te leef. Na die
Here Jesus se hemelvaart is die werk van die Heilige Gees
om ons in ‘n innige en werklike gemeenskap met Jesus
te bring. Dit vind plaas deur die hemelvaart en Pinkster.
Die Bybel praat aan die een kant van “Christus wat in my
lewe”(Gal. 2:20), en aan die ander kant van “Weet julle nie
dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in
julle woon nie?”(1 Kor. 3:16).
Dit is die Heilige Gees wat Jesus in ons teenwoordig maak
na die hemelvaart! Wat ‘n wonderwerk van God!
Wat ‘n genade dat Jesus kies om deur die Heilige Gees in
ons te woon!
‘n Jood het gedurig die egtheid van ‘n Christen meisie
getoets en by geleentheid aan haar gevra hoe sy weet dat
daar ‘n God is? Hy wou haar geloof toets. Sy het sonder
huiwering geantwoord:
“Ek weet dat God lewe, want Hy leef in my, diep in my hart!
Ek weet dit is nie meer ek wat leef nie, maar Hy in my.”
Haar antwoord en die getuienis van haar lewe het hom
geskud, en hy, wat haar van Christenskap wou weglei,
het self tot bekering gekom!
Na Jesus se hemelvaart hou sy inwoning deur die
Heilige Gees vir ons voordele in:
Hy skenk ons wedergeboorte en bekering! – Titus 3:5-6.
Hy gee aan ons ‘n nuwe identiteit; kinders van God! –
Rom.8:14-15.
Hy gee ons geloofsekerheid, geloofsversekering! –
Rom.8:16.
Hy verander ons al hoe meer om aan die beeld van
Christus gelyk te word! – 2 Kor. 3:18.
Hoe wonderlik werk die Drie-enige God!
Na Hemelvaart kom woon Jesus in ons, deur die Gees!
Hy laat ons nie alleen agter as “weeskinders” nie! –
Joh. 14:18
Ernest