In die tyd van die Ou Testamant het God sy
teenwoordigheid geopenbaar deur die wolkkolom
en die vuurkolom wat die volk op sy reis vergesel het.
Daarna kry Moses die opdrag om die tabernakel te bou.
‘n Tent wat as tempel diens gedoen het.
Nadat die tabernakel opgerig is het die eerste “Pinkster”
as’t ware plaasgevind want “die magtige teenwoordigheid
van die Here het die tent gevul” – Eks. 40:34.
Die volgende aanduiding van God se teenwoordigheid was
500 jaar later in Jerusalem met die voltooiing van die tempel:
“Toe die priesters uit die heiligdom kom, het ‘n wolk die huis
van die Here gevul. Daarom kon die priesters nie vir diens
aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die
Here wat die huis van die Here gevul het.” – 1 Kon. 8:10-11.
Ongeveer 900 jaar later kry ons die volgende groot aanduiding
van God by ons! Weer in Jerusalem.
Op Pinksterdag het die Here sy magtige teenwoordigheid op
‘n heerliker wyse geopenbaar toe Hy sy intrek in sy
“Nuwe Testamentiese tempel” kom neem het! Handelinge 2
beskryf hoe die Heilige Gees oor die gelowiges uitgestort is:
“Almal is met die Heilige Gees vervul.” – Hand. 2:4.
Hoewel Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy deur sy
Heilige Gees op Pinksterdag in sy volgelinge kom woon en
leef! Hy kom so sy geseënde werk op aarde voortsit deur ons!
1 Kor. 3:16 sê: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is
en dat die Gees van God in julle woon nie?” Dit is só wonderlik!
Ons het nie meer die bemiddeling van priesters nodig om in
God se teenwoordigheid te kom nie.
Jesus self woon nou deur sy Heilige Gees in ons.
Gal. 2:20 praat van “Christus wat in my lewe.”
Dikwels in die Bybel word van God se teenwoordigheid by sy
kinders gepraat as die “magtige” teenwoordigheid van die Here.
Besef jy dat jy die krag van God in jou het en daarmee onder
leiding van die Heilige Gees God se wil kan uitleef?!
1 Joh. 4:4 sê “...Hy wat in julle is, is groter as die duiwel,
wat in die wêreld is.” Lees dit weer...
Hy wat in julle is, is groter as....enige iets of iemand anders!
Ernest