Die oomblik wanneer wedergeboorte en bekering
deur die Heilige Gees in jou bewerk word, word ‘n
nuwe verlange en ‘n nuwe strewe in jou wakker.
Jy wíl nou die wil van die Here doen onder alle
omstandighede en Hom met jou hele lewe behaag.
Jy wil voluit vir Hom lewe! Jy wil nie meer sondig nie.

‘n Totale gesindheidsverandering het in jou plaasgevind.
Jy het ‘n nuwe mens geword! Jou hart is nou daarop
ingestel om God se wil te doen. Jy haat die sonde wat jy
in jou lewe ontdek, en jy vlug daarmee na God toe!

Jy kom nie nou maar net meer die Here se wil na omdat
jy bang is jy verloor iets nie, soos iemand wat slegte
medisyne drink omdat hy bang is hy sal dood gaan nie.
Nee! Dit is glad nie meer jy wat leef nie, maar Christus,
in jou! Jy is ‘n totaal nuwe mens.
Dit is sigbaar dat Christus deur die Heilige Gees in jou
woon want jy dra die vrug van die Gees van Gal. 5:22-23.

Wat beteken dit alles vir jou?
Die Heilige Gees woon in jou – 2 Kor. 13:5.
Hy het jou gelei om Jesus as jou Verlosser aan te neem –
Rom. 8:11.
Hy het jou die wedergeboorte geskenk en jou ‘n nuwe
mens gemaak – Gal. 2:20 en 1 Pet. 1:3.
Hy het Jesus in jou teenwoordig gemaak.
Hy is ook self God, die Gees, in jou!
Dink net vir ‘n oomblik daaraan:
Oral waar jy gaan...is God in jou!
Beleef die krag en werking van die Heilige Gees in jou
hele lewe!
Hy wil jou al hoe meer en meer verander om al hoe
meer die beeld van Jesus te vertoon!

Ernest