God laat ons nie aan ons eie oor nie. Ons is sy kinders.
Hy het ons lief. Hy kom woon deur die Heilige Gees in
ons en help ons volledig om vir Hom te lewe volgens
sy wil: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei,
is kinders van God.” – Rom. 8:14.
Die heilige Gees, wat in ons woon, begelei ons elke
oomblik op ons lewenspad en stel ons in staat om tot
verheerliking van God te lewe! Hoe doen die Gees dit?
Die Heilige Gees begin daarmee wanneer Hy ons lei tot
geloofsekerheid.
Die Heilige Gees lei ons deur die inhoud van die Bybel.
Hy lei ons dieper in die waarheid in deur ons te help om
die Woord van God te verstaan en uit te leef – Joh. 16:13.
Die Heilige Gees lei ons ook in ‘n proses om die werke
van die sonde in ons tot niet te maak – Rom. 8:13-14.
Die Heilige Gees kom woon en werk in jou as Goddelike
lewenskrag!
Die Heilige Gees begelei ons wanneer ons bid. Hy help
ons om te bid, en wanneer ons bid – Rom. 8:26.
Die Heilige Gees troos ons. Jesus verwys na die Heilige
Gees as die “Voorspraak” of “Trooster” – Joh. 14:26.
Die Heilige Gees begelei ons in ons getuienis taak deur
ons sy krag te gee om dit te doen – Hand. 1:8.
Die Heilige Gees lei ons ook deur innerlike oortuigings.
Ook deur ‘n sterk impuls, soos om aan iemand te dink
om hom te help of vir hom te bid.
Leef daarom naby aan die Gees om Hom te hoor!...want
die Gees gee ons ‘n fyn aanvoeling.
Die Heilige Gees lei ons ook deur “deure” oop of toe
te maak.
Dit is wonderlik om te weet dat die Heilige Gees in en
by ons is om ons te lei en te help met alles wat ons
lewens raak, sodat ons regtig tot eer van God kan leef!
Ernest