Paulus sê vir die gelowiges dat hulle hul deur
die Heilige Gees moet laat vervul – Ef. 5:18.
Of laat beheers – Gal.5:16.
Ons moet verstaan wat die verband is tussen
die doop met die Heilige Gees en die vervulling
met die Heilige Gees. Petrus is byvoorbeeld op
Pinksterdag eenmalig gedoop met die Heilige Gees,
en tog by meer as een geleentheid opnuut vervul
met die Heilige Gees – Hand. 2:4, 4:8, 4:31.
“Doop met die Heilige Gees” is nie dieselfde as
“vervulling met die Heilige Gees” nie, maar hou wel
verband daarmee. Hoewel die Nuwe Testament ons
beveel om ons te bekeer en vervul te word met die
Heilige Gees, word ons nêrens beveel:
“Word wedergebore”, of “word met die Heilige Gees
gedoop” nie. Die doop met die Heilige Gees het op
Pinksterdag plaasgevind.
Vir die gelowige vind die doop met die Heilige Gees
plaas wanneer hy wedergebore word deur die Gees.
Doop met die Heilige Gees is dus wanneer die
Heilige Gees in jou kom woon en jy Hom eenmalig
ontvang. Hy is ‘n Persoon wat in jou kom woon.
Jy kan nie die Heilige Gees stukkie vir stukkie
ontvang nie. Hy is ‘n Persoon, nie ‘n krag nie.
Vervulling met die Heilige Gees is dat die Heilige
Gees wat reeds as Persoon in my woon,
meer en meer van my lewe kry, en dat Hy meer
en meer die beheer van my lewe oorneem.
Ek behoort dus ook reeds as persoon aan Hom,
maar Hy kry meer en meer beheer oor my totale lewe,
soos wat ek in gehoorsaamheid dit aan Hom oorgee.
Paulus beveel byvoorbeeld die Efesiërs wat reeds
“aan God behoort en in Christus Jesus glo” (Ef. 1:1),
en dus reeds deur die Gees gedoop is:
“..laat die Gees julle vervul” – Ef. 5:18.
Ons wat reeds kinders van God is en by wedergeboorte
deur die Gees gedoop is, moet Hom nou toelaat om die
volle beheer van ons lewe oor te neem tot eer van God.
Iemand gebruik hierdie beeld:
Die doop met die Heilige gees is soos ‘n huis wat klaar
gebou is en volledig bedraad is met elektrisiteit en
toegerus is met toebehore.
Vervulling met die Heilige Gees is wanneer die skakelaar
aangesit word en die krag in werking gestel word!
Andrew Murray sê dat die doop met die Heilige Gees vir
so baie wedergeborenes net ‘n seën is wat aangeteken
is op hulle krediet, maar wat hulle nie tot eer van God
benut en geniet nie. God het dit reeds gegee, maar dit
kom nie noodwendig tot vervulling in hulle lewe nie.
Wanneer jy jou egter onvoorwaardelik oorgee aan die
leiding en die heerskappy van die Heilige Gees,
is dit vervulling met die Heilige Gees, en sal jy sien hoe
die Goddelike krag deur jou werk.
Kom ons eien onsself die vervulling met die Heilige Gees
toe, juis op grond van die doop deur die Heilige Gees
by ons wedergeboorte en bekering.
Laat die Gees jou vervul! – Ef. 5:18.
Ernest