In hierdie Pinkstertyd dink ons opnuut saam oor
die werk van die Heilige Gees in ons lewens.

Vervulling met die Heilige Gees is vir al God se
kinders bedoel!
Paulus gee die volgende opdrag:
“...laat die Gees julle vervul” – Ef.5:18. Let op dat
die Efesiërs brief gerig is aan “almal in Efese wat
aan God behoort en in Christus Jesus glo” – Ef. 1:1.
Die Griekse woord wat vir vervulling gebruik word
het onder andere die volgende betekenisse:
Om verder vol te maak – of volgemaak te word.
Om verder te voltooi, letterlik “om te bring tot
volkomenheid.”
Om volle besit te neem, of te beheer.
Om ‘n profesie, of belofte, of ‘n verpligting wat
vereis word, te vervul.
Dit alles word toegepas op vervulling met die
Heilige Gees.

Ons moet die volle ruimte van ons lewe oorgee aan
die Heilige Gees.
Ons moet nie die Heilige Gees se leiding weerstaan
of die Gees bedroef nie.
Ons moet nie sekere aspekte van ons lewe vir onsself
hou nie, byvoorbeeld hoe ons ons geld bestee, of die
manier hoe ons getuig nie - nie uit eie krag nie.
Ons lewe is dikwels vol van “eie planne”.

Die Heilige Gees wil verder voltooi wat Hy reeds by
wedergeboorte in ons begin het. Laat ons Hom toe
om dit te doen? Hy wil ons laat groei om meer en
meer die beeld van Jesus te vertoon. Hoeveel groei
en vooruitgang is in ons geestelike lewe?
Vervulling deur die Gees is om die Gees toe te laat
om sy werk in ons te voltooi, soos God dit wil hê.

Inderdaad moet ons gehoor gee aan die opdrag van
Paulus: “...laat die Gees julle vervul.” – Ef. 5:18.

Ernest