Ons dink óns moet alles sélf doen.
Ons ongeërgdheid oor die geestelike welsyn
van ander, ons gebrek aan vrymoedigheid,
ons huiwering wanneer ons moet optree,
ons vreesagtigheid oor so baie dinge,
ons wankelende geloof en ons kragteloosheid
bring mee dat ons dikwels weinig vir die Here
se saak beteken. Want...ons dink óns moet alles
sélf doen. Ons dink alles hang van ons eie wysheid
en krag af, en ons is pynlik bewus van ons eie gebreke
en tekortkominge. Dit dui op ‘n gebrek aan vervulling
met die Heilige Gees in ons lewens. Om alles te kroon,
besef ons nie dat dit juis hierdie gebreke en
tekortkominge is wat die Heilige Gees wil aanspreek
deur vervulling met die Heilige Gees nie!

Goddank! Wanneer die Gees ons lewens begin beheer,
soos wat ons sien in die lewe van die dissipels, word
ons instrumente in sy hand. Dan is dit nie meer óns nie,
maar Hý wat alles deur ons doen. Kyk net wat met die
dissipels gebeur het. Voordat hulle vervul is met die
Heilige Gees het hulle weggekruip uit vrees vir die Jode.
Hulle was van weinig nut vir die koninkryk van God.
Nadat hulle met die Heilige Gees vervul is, het hulle
meteens kragtige getuies geword vir Jesus! Kyk net:

Hulle het vrymoedigheid gehad om vir die Here te
getuig – Hand. 4:13.
Hulle was nie meer bang nie – Hand. 5:42.
Hulle het besondere wysheid ontvang wanneer dit
nodig was – Hand. 6:3, 10.
Hulle geloof het nie gewankel nie – Hand. 6:5, 8.
Hulle het leiding van die Gees gehad – Hand. 8:29.
Hulle het eenheid met medegelowiges beleef, die
nood van ander raakgesien en iets daaraan gedoen.
Hulle was daarop ingestel om die blye boodskap
met ander te deel.
Die Here het sy gemeente deur hulle opgebou en
uitgebrei – Hand. 2:40-47.
Hulle getuienis het krag gedra en resultate gelewer –
Hand. 2:37.

Daar sal geestelike herlewing wees wanneer ons erns
maak met die vervulling met die Heilige Gees en die
beheer deur die Gees van ons totale daaglikse lewe!
“Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers
word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van
julle sondige natuur nie.” – Gal. 5:16.
Streef na vervulling en gehoorsaamheid aan die Gees!
Hy sal doen wat Hy beloof!

Ernest