Paulus sê in Ef. 5:18: “...laat die Gees julle vervul.”
Die Griekse woord wat hy gebruik is die bevelvorm
van die passief wat beteken: “word vervul!”
Die Efesiërs brief is gerig “aan almal in Efese wat aan God
behoort en in Christus Jesus glo.” Dus kan niemand sê dat
vervulling met die Heilige Gees nie vir jou bedoel is nie.
Nou belangrik: Die bevelvorm waarin die betrokke teks voorkom,
maak dit duidelik dat, alhoewel God dit graag wil doen, dit ‘n
opdrag is wat jý moet gehoorsaam! As jy niks daaraan doen om
hiervan seker te maak nie, is jy buite die Here se wil.
Verder maak die passiewe bevelvorm dit duidelik dat jy geen
vorm van verdienste kan hê in vervulling deur die Heilige Gees nie.
Ons kan net daaraan deel hê deur die geloof op grond van God se
genade. Soos ons seker daarvan kan wees dat ons sonde vergewe
sal word wanneer ons dit opreg bely (1 Joh. 1:9), so kan ons
daarvan seker wees dat ons met die Heilige Gees vervul word
wanneer ons aan Hom oorgegee is (Joh.15:5), en deur gelowige
gebed Hom daarvoor vertrou.
Gehoorsaamheid aan die Gees is die onmisbare voorwaarde vir
die volle inwoning deur die Gees. Dit is nie gehoorsaamheid as
verdienste nie, maar gehoorsaamheid gebore uit liefde vir Hom.
Kyk wat sê Petrus in sy verdediging voor die Joodse Raad in
Hand. 5:32 oor gehoorsaamheid aan die Heilige Gees:
“En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God
gegee is, aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” Algehele oorgawe
is ‘n oorgawe onder álle omstandighede! Dit is ook ‘n
“daaglikse bekering” waarin ons die Here al hoe beter leer ken,
en al hoe meer die volle beheer van ons lewe aan die Gees oorgee.
Gebed is belangrik vir vervulling deur die Gees. Jesus stel dit só:
“As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee
– die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee
vir dié wat vra.” – Luk. 11:13.
Wanneer ons na die vervulling deur die Heilige Gees “hyg” soos ‘n
wildsbok in die woestyn hyg na waterstrome, sal die Here ons gebed
nie onbeantwoord laat nie!
Ons weet uit Ef. 1:1 dat vervulling deur die Heilige Gees vir alle
gelowiges bedoel is! Ef. 5:18 gee dit ook as ‘n opdrag wat gerig is op
alle gelowiges. Dit is dus God se wil vir jou. Wanneer ons dus
daarvoor bid, weet ons dat ons iets vra wat volgens God se wil is.
1 Joh. 5:14 sê daaroor: “Nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan,
omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.”
“...laat die Gees julle vervul.” Laat die Heilige Gees jou vervul,
en jou hele lewe beheer! Gee jouself! En bid opreg daarvoor!
Ernest