Is vervulling met die Gees duidelik waarneembaar
vir mense? Ondubbelsinnig ja! As dit nie so was nie,
sou Petrus nie die volgende opdrag aan die gemeente
gee nie: “Broers, soek sewe mans onder julle uit wat
daarvoor bekend is dat hulle vol van die heilige Gees
is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak
kan aanstel.” – Hand. 6:3.
Die “vol van die Heilige Gees” is dus waarneembaar.

Hoe sal dit raakgesien word?
Die belangrikste kenmerk van ‘n Gees-vervulde
Christen is die teenwoordigheid van die vrug van
die Gees in sy lewe – Gal. 5:22-23.
Hiervan is die belangrikste die liefde! Verder ook
vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

‘n Verdere kenmerk van so ‘n persoon is sy dienslewering
aan die Here binne die gemeente. 1 Kor. 12:7 sê:
“Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees
gegee tot voordeel van almal.” Verder: “Elkeen van hulle
vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in
liefde.” – Ef. 4:16.

Stefanus was ook ‘n goeie voorbeeld van die sigbaarheid
van die Heilige Gees in iemand se lewe. Hy het die Here
gedien in sy genade en krag – Hand. 6:8. Dit het wonders
en tekens tot gevolg gehad, asook “die wysheid wat hy
van die Gees ontvang het”. Selfs die lede van die sinagoge
was nie daarteen “opgewasse” nie – Hand. 6:10.

Jy sal weet dat die Here jou met sy Gees vervul het
wanneer jy ervaar dat die liefde van Christus jou dring,
omdat God sy liefde in jou hart uitstort deur die Heilige
Gees wat Hy aan ons gegee het – Rom. 5:5. God se liefde
sal voortaan jou dryfkrag wees vir alle dienslewering aan
mense – Gal.6:1-2.

Jy sal ‘n diep bewustheid van God se teenwoordigheid in
jou lewe ervaar – Fil. 4:4-7. Jy sal ook ervaar hoe die
Heilige Gees deur jou werk wanneer jy met ander praat
oor Jesus – Hand. 1:8. Jy sal ook die Gees in jou daaglikse
lewe beleef – Rom. 8:14-16. Jy sal die intense belewenis
hê waarvan Paulus praat: “...nou is dit nie meer ek wat
lewe nie, maar Christus wat in my lewe – Gal. 2:19-20.

Vervulling met die Heilige Gees laat jou nie sit en wag vir
buitengewone tekens om dit te bevestig nie. Jy sal
eenvoudig God op sy woord neem vir sy beloftes en in
gehoorsaamheid ‘n getuie wees deur die krag van die Gees.
Is dit waar jy is? Laat die Gees jou vervul! – Ef. 5:18

Ernest